[Luister] Nataniël terug in volle glorie om 30 jaar te vier

Nataniël (Foto: Verskaf)

Hy het maar ʼn paar weke gelede gehoor sy liggaam verwerp nié gluten soos ʼn dokter jare gelede vir hom gesê het nie, het Nataniël onlangs in Johannesburg vertel. Daarom wil hy nie in dié stadium iets oor sy jongste produksie se “allemintige” kostuums sê nie, want teen die pas wat hy gluten eet om in te haal vir verlore jare, sal hy dalk nie in ʼn enkele kostuum pas nie.

Eintlik is dít – en baie ander dinge waaroor hy grap – glad nie die waarheid nie, aangesien die sanger, skrywer en verhoogpersoonlikheid vanjaar wéér slaggereed is vir sy jongste Emperors Palace-produksie, 30 years, 90 Minutes.

Dié produksie, wat volg ná die uiters suksesvolle Mannequin van verlede jaar, is ʼn viering van die kunstenaar se 30 jaar op die verhoog. Dié keer is hy weer op die verhoog saam met Nicolaas Swart en Dihan Slabbert en sy medemusikante Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (baskitaar), Juan Oosthuizen (kitaar) en Hugo Radyn (tromme).

Aanhangers kry in dié produksie ʼn blik op die verstommende materiaalversameling van die meer as 6 000 keer wat hy op die verhoog was. Hy het ook al 79 oorspronklike konserte geskryf en aangebied, 17 albums uitgereik, 17 boeke geskryf, ses DVD’s uitgereik en drie hoogs gewilde televisieprogramme verfilm.

“Dis ʼn viering van my 30 jaar op die verhoog, maar dis nie ʼn greatest hits-produksie nie. Dit is spesiale oomblikke waarvan baie vergete geraak het oor die jare. Die helfte van die produksie bestaan uit nuwe materiaal, terwyl die ander helfte ʼn samevoeging van sommige van die grootste oomblikke in die afgelope 30 jaar was. Ek het uit my pad gegaan om die teenoorgestelde te doen wat mense van dié produksie verwag – anders is dit boring,” vertel hy.

30 Years, 90 Minutes is die eerste groot produksie wat ook in ander dele van die land te sien was, onder meer by ʼn uitverkoopte Kunstekaap vir talle produksies. Nataniël sê die vertoning van dié produksie by Emperors Palace gaan op ʼn groter skaal wees.

Nataniël (Foto: Verskaf)

“Die Kaapse vertonings was uitverkoop en dit het baie goed gegaan. Hulle het vir my opgestaan – en die Kapenaars staan nooit op nie,” terg hy. “Dit was lekker omdat ek nie in Kaapstad noodwendig dieselfde naam vir my lewensgrootte stelle en kostuums het as in Gauteng nie. Ek was dus baie meer ontspanne gewees. Nou is ek terug, en nou moet ek voldoen aan verwagtinge, en my senuwees is op.”

Hy sê vanjaar se kostuums gaan teatergangers se asem wegslaan. Daar is nog net een knelpunt – van die kostuums is só lewensgroot, hy is onseker hoe hy vinnig daarin gaan in- en uitglip. “Vanjaar is daar van die grootste kostuums wat ek nog ooit gedra het. Daar is een uit hout, een uit byewas en een wat vasgesweis is. Daar is sekere kostuums wat ek nog nie weet of ek gaan dra nie, want dit is nog gans te groot om te hanteer. Party dinge is amper onmoontlik om vinnig in en uit te glip omdat ek die verhoog byna nooit verlaat nie.”

Dié produksie is saamgestel uit ou én nuwe materiaal. Hy sê aanhangers wat sy loopbaan al lank volg, kan dalk een of twee liedjies herken. “Driekwart van die materiaal is goed wat ek al vergeet het waaraan mense my herinner het. Ek het op party van die goed afgekom toe ek terloops besig was om bladmusiek deur te werk. Ek het vooraf niks behalwe twee liedjies in my kop gehad nie – die res het net per ongeluk gekom. Daar moes ook nuwe goed kom sodat die teatergangers nie dink ek is lui of dood nie,” terg hy.

Teatergangers moet vanjaar weer let op Nataniël se goue reël: géén selfone nie. “Vanjaar maak ek jou dood. Ek gooi vir jou met my mic. Ek gaan klippe pak agter my monitor om mense mee te gooi. Ek is nou te oud om selfone te hanteer. As jy iets of iemand wil bel, doen dit by die huis. Net drie mense vernietig die aand vir almal – ek dink dit sal die hoogtepunt van ʼn paar aande wees as iemand deur iets getref word.”

Die produksie is van 24 Augustus tot 24 September te sien by Emperors Palace. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pop ·

Ag wens ek kon gaan. Ek is sy grootste fan. Sy stories is die heel beste kuur vir depressie.

Piet ·

Verstaan glad nie hoekom almal so gaande is oor hom nie.. mag nie skryf wat ek dink nie

Suzette ·

Ons is gaande oor hom want: hy is super slim, super bekkig en super cool.

Reti ·

Ag ou Piet dit maak nie eintlik saak wat jý dink nie. As jy hom eers gaan kyk het sou jy anders gepraat het. Ek lóóóve hom. Skerp humor, ernstige oomblikke en fantastiese stem.

THEA SWART ·

Ek is absoluut mal oor hierdie man en sal wat wil gee om net een van sy shows te kan gaan kyk dit is nog op my “bucketlist” meskien eendag – intussen sal ek maar net hoop – geniet dit namens my asb almal wat wel kan gaan

J ·

Wat uitrustings betref kan Nataniël enige tyd Liberace ‘n goeie slag slaan. Kan nog beter !! Mooiman.

Steven ·

@ Suur Piet se opmerking:
My ma het altyd gesê: as jy nie iets goed of positief kan sê nie, dan is dit beter om stil te bly…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.