Luister: Nicholis Louw: Van ‘Rock daai lyfie’ tot nou

Nicholis Louw (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Hy was net 24 jaar oud toe hy reeds gehore op hul voete gehad het terwyl hulle met oorgawe saamgesing het aan en gedans het op liedjies soos Rock daai lyfie, Net die een vir my en Water jou mond.

Vandag is Nicholis Louw al vyf jaar met sy vrou, Denise, getroud en is hy ʼn pa vir sy vierjarige dogtertjie. Musiek vloei egter steeds sterk deur sy are – dalk net bietjie meer klassiek as rock.

Nicholis (40) vertel aan Maroela Media dat hy al baie lewenslesse in sy jarelange loopbaan geleer het en dat hy nou nader aan die Here leef, nadat hy vroeër soms afgedwaal het.

“Ek het baie wyser geword. Ek het geleer dat mens in goedertierenheid moet lewe, vinnig moet vergewe en régtig ʼn pad met die Here moet stap.  Ek het geleer dat jy vandag ʼn beter lewe moet begin skep, want wat jy vandag skep, is jou en jou kind se toekoms eendag,” sê hy.

Nicholis hoop ook dat sy musiek en sy stemkwaliteit met die jare beter geword het. “Ek doen nog dieselfde ding op die verhoog, net beter! Ek het beslis as kunstenaar ontwikkel.”

Nicholis Louw (Foto: Facebook)

Maar van ophou is daar geen sprake vir dié Generaal-sanger nie. Hy sal wel graag in die toekoms meer aan klassieke musiek wil werk, omdat dit vir hom nuwe uitdagings stel.

“Ek is 100% gebou vir hierdie beroep – die Here het my aanmekaar gesit om hierdie werk te doen. Ek kan en wil niks anders doen nie, die Here het my so gemaak. Ek weet nog nie wat ek gaan doen as ek eendag groot is nie, maar ek weier om groot te word,” skerts hy.

“Die klassieke kant van my is wel baie sterk, so ek wil meer daarvan in die toekoms doen. Dit is ʼn ander tipe gehoor en ʼn ander tipe waardering wat mens kry as wanneer jy hoofstroom-musiek sing,” sê hy.

Hoewel sy loopbaan verg dat hy baie van sy gesin af weg is, sal Nicholis dit vir niks verruil nie.

“Nee, dit is nie lekker om weg van my familie af te wees nie, veral nie weg van my kind af nie. Maar my vrou het my ontmoet toe ek reeds ʼn bekende sanger was, so sy is gewoond daaraan. Dit maak dit nie makliker of lekker nie, ek wil natuurlik eerder langs my vrou wees, maar hierdie talent wat ek het, is wat God vir my gegee het om vir my gesin te sorg. En dít is ʼn wonderlike talent.”

Nicholis sê hy probeer om die tye wanneer sy gesin almal bymekaar is, opreg te waardeer en die meeste daarvan te maak, maar so ook wanneer hy op die verhoog is, omdat hy so lief is daarvoor.

Nicolis en sy vrou, Denise, is al vir vyf jaar getroud (Foto: Facebook)

Nicholis en Denise het in 2014 vir die eerste keer ouers geword, en hy vertel dat hulle graag nog kinders sal wil hê. Hy sê om ʼn pa te wees, is die grootste geskenk wat hy al ooit gekry het.

“Dit is die grootste voorreg wat God vir ons gegee het. Ek is verskriklik lief vir my kind en ons gesin lewe almal baie na aan mekaar, ons is ʼn eenheid.

“Sy het my lewe drasties verander, pawees leer my elke dag iets nuut. As jy vir ʼn kind iets moet leer, onthou jy waardes baie makliker. Ek dink mense is geneig om waardes te vergeet met die verloop van tyd, maar as jy dit vir ʼn kind moet leer, onthou jy dit weer. Jy leef hulle ook dan weer uit, omdat jy dit nie vir ʼn kind wil leer as jy nie self daarin glo nie,” sê hy.

Nicholis het pas ʼn nuwe weergawe van PJ Powers se bekende World in Union saam met Liezel Pieters opgeneem ter voorbereiding vir die Wêreldbekerrugbytoernooi wat op 20 September in Japan begin.

Nicholis Louw en Liezel Pieters sing ‘World in Union’

Hy sê hy is vandat dié liedjie in 1995 uitgekom het, mal daaroor, maar dat hy gesukkel het om ʼn vroulike sanger te kry om dit saam met hom te sing. Hy het uiteindelik vir Liezel Pieters gekry en saam sing hulle nou hierdie ou bekende liedjie.

“Wanneer jy ʼn liedjie oordoen, moet jy eer betoon aan die vorige kunstenaars wat dit gesing het, jy moet hulle eer in jou weergawe van die liedjie. Dit is ʼn massiewe liedjie om te sing, en ons wou dit goed doen, want ons het geweet ons trap in die spore van reuse,” sê Nicholis.

Nicholis sê hy wil hê die liedjie moet mense inspireer om beter te wees en om ʼn lewe van goedertierenheid te leef.

“Veral met alles wat in Suid-Afrika aangaan, wil ek hê hierdie liedjie moet goedheid inspireer. Mense moet weer moed kry. Dít is wat God vir die wêreld wil hê; dat mense in goedheid verenig moet wees. Ons moet almal terugkom na God en goedertierenheid.”

Nicholis en Liezel se weergawe van World in Union sal eersdaags op alle digitale platforms beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Agter die skerms ·

My doggie was en is nog steeds absoluut mal oor Nicholis Louw. Ons was by ATKV Klein Kariba, het in die winter in die aand buite gesit net om hom te kon sien. En die volgende oggend in die restaurant het sy vir haar dad gese Dad daar is Nicholis en toe het my man vir Nicholis gaan vra net om my dogter te kom hallo se en hy het onmiddellik gedoen. Dankie Nicholis is nog steeds haar held.

Gesiggie ·

Hallo daar… Tjomma” so bly om na so n lang tyd weer te hoor dat jy n nuwe CD uitbring.. ons is trots op jou, en sal altyd jou Nr 1 Fans bly. Jy is n ongelooflikke mens en sal vir altyd in ons harte bly. Trotse Pappa en Man sal jy altyd wees , jou vriendlikheid straal oral uit waar jy gaan, het jou song gehoor op radio van World in Union saam Liezel,,, en weereens super cool”’ jy mag maar sing. Ons mis jou en wens om jou gou weer te sien. alle sterkte met jou loopbaan , en ons weet jy gaan nog meer bereik want jy Glo en Vertrou altyd. liefde aan Denise en jou mooi dogtertjie pas jouself mooi op, tot ons weer sien.. Go well Tjomma” Jou Nr 1 Aanhangers… nou en altyd Nelspruit. Rock Daai Lyfie….. nou en altyd.

Carol ·

Vandat ek “Bly by my” gehoor het, is ek ‘n fan. Ek het jou nou by Krone weer gesien…ai jai jai !!!! jy kan maar sing…klassiek, rock, net wat jy wil, want jy kan! Voorspoed vir jou en jou mooi gesin. ♪♫…ek is hier voor jou huisie die straatlig brand….♪♫

colleen ·

Ek het altyd my naam op ‘n lys gesit wanneer ‘n nuwe CD of DVD uitkom om seker te maak ek kry dit dadelik. Nicholis mag maar sing en sjoe hy bly maar sexy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.