Luister: Nuwe album getuig van Jan Blohm se reis tot selfaanvaarding

Jan Blohm, die musikant met die blues-klank en diep lirieke, betower al vir langer as ʼn dekade Afrikaanse musiekliefhebbers met sy rasperstem. Sy debuutalbum, Melkstraat Confessions, is in 2004 uitgereik.

Dié skrywer en sanger van immergewilde Afrikaanse treffers soos “Groen trui”, “Ruby” en “Breyten se brief”, se stem was vir sowat ses jaar stil. Nou is hy terug met ʼn splinternuwe album, Die liefde album, en dié album met sy rou en eerlike lirieke getuig van Blohm se reis tot selfaanvaarding.

“Ek is nie nou skielik ʼn ghoeroe in die liefde nie, maar liefde is ʼn oplossing vir dinge. Dit is hoekom ek op die tema besluit het, want dit is nou relevant in my eie lewe. Die tema van die album is die reis wat liefde is. Daar word vrae gevra rondom wat is liefde. Wie sal dit maak en vir wie kan ek dit maak?” sê hy in ʼn onderhoud net Maroela Media.

Jan Blohm. (Foto: Facebook)

Jan Blohm. (Foto: Facebook)

“ʼn Album is ʼn ding op sy eie. Dit het ʼn begin en ʼn einde. My gunsteling-albums is dié waarna ek van voor tot agter kan luister en dan weer van voor af kan begin.”

Hy vertel sy reis is een waartydens hy moes leer lief raak vir homself. “Ek het onlangs vir die eerste keer besef ek het altyd ʼn probleem gehad, en het dit nog steeds, met byvoorbeeld om ʼn kompliment te aanvaar. Ek kan nie! Ek het besef dit is omdat ek nie altyd baie van myself hou nie. Daarom moes ek myself aanvaar en leer lief wees vir myself en mooi wees met myself en myself vergewe vir dinge.”

Met die eerste enkelsnit in die nuwe album, “Liefde maak”, was dit ʼn vraag wat hy homself moes vra. “Wie sal vir my liefde maak? As ek dit nie vir myself kan doen nie, wie sal?”

Die album bestaan uit 12 snitte waarvan hy 11 self geskryf het. Die 12de snit is ʼn nuwe weergawe van Gert Vlok Nel se “Beautiful in Beaufort-Wes”. “Ek het nie ʼn gunsteling-kind in die album nie. Al die liedjies is spesiaal, want dit het my 40 jaar gevat om by daai liedjies uit te kom. Ek sê altyd my gunsteling-liedjie is die een waarmee ek besig is, want dis die liedjie wat in my hart is.”

Jan in rustige, vrolike luim. (Foto: Facebook)

Jan in rustige, vrolike luim. (Foto: Facebook)

Blohm het die album saam met Ewald en Arnold Coleske opgeneem en vertel dit was ʼn reusevoorreg om saam met dié talentvolle broers te werk. “Ek het soveel respek vir die broers. Hulle het net vir my gesê hulle is mal oor die album en wil net hê ek moet dit daar by hulle kom opneem. Ek was uit die veld geslaan, ek kon dit nie glo nie. Net hulle nederigheid en entoesiasme was ongelooflik.”

Grotes in die musiekbedryf soos Denny Lalouette, John Masser en Paulo Azevedo het saam met Blohm aan dié album gewerk. “Ons het ʼn klomp musikante saam in ʼn ateljee gegooi en vir hulle verduidelik wat die idee is, wat die boodskap van die liedjie is en watter soort klank ek wil hê om dit oor te dra en ons het dit in hulle hande oorgelaat.”

“ʼn Goeie album is ʼn spieël. Ek kan jou vertel wat die liedjies vir my beteken, maar die beauty van die liedjie is wat dit beteken in jóú lewe. As die album kan deel wees van die klankbaan van mense se lewens en as my werk en my stem in mense se harte en op hulle radio’s is, is dit vir my ʼn massiewe eer.”

Die liefde album is beskikbaar by alle groot musiekhandelaars en aanlyn musiekplatforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Soltykat ·

Mooi so Jan. Nog altyd ‘n groot bewonderaar!!! kan nie wag om die CD te kry nie.

Essa ·

Briljant soos altyd. Vir my persoonlik makliker, maar met dieselfde diepte, kwaliteit en siel
wat hierdie kunstenaar so spesiaal maak. So mooi. Ek was en bly ‘n vir-altyd “fan”!!

Bul ·

Jan se musiek is “real “en outentiek. Baie anders as meeste snert wat as Afrikaanse musiek opgedis word nie.

Gerrit ·

Stem 100% met die kommentare hierbo. Pragtige, diep en betekenisvolle musiek. Ek luister my CD oor en oor in my kar.

Kry hom gerus, BAIE beter as die gemors wat sommige ander kunstenaars opdis. Dit mos hoe Afrikaans MOET klink.

Doen so voort Jan!!!

pbotha ·

Wat n voorreg om na hierdie man se musiek te luister. Soos n Koos Dup van ouds roer Blohm jou hart en jou siel se binneste. Hoop hierdie album lei vir hom n mooi tyd in sy lewe in. Altyd n fan !!! great musiek..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.