Luister: Nuwe baadjie vir FAK-kinderliedjies van ouds

Die Rakkers met Pulane Nel-Sekepe, Lee Scott, Nadia Beukes en Hendri Myburgh (Foto: Verskaf)

“Een, twee, drie, vier, hoedjies van, hoedjies van
Een, twee, drie, vier, hoedjies van papier.”

As jy dalk nie dadelik saamneurie wanneer jy die liriek van “Hoedjies van papier” lees nie, dan sal jou tone omkrul van pure lekkerte wanneer jy Die Rakkers se weergawe van hierdie en ander FAK-gunstelinge soos “Wielie Walie” en “Saai die waatlemoen” hoor.

Die Rakkers, met Nadia Beukes, Lee Scott, Hendri Myburgh en Pulane Nel-Sekepe, is ʼn opwindende musiekprojek wat op 21 Februarie, ook Internasionale Moedertaaldag, amptelik bekendgestel is met die snit “Die Rakkers is hier”.

“Ons wil graag hê ons kinders moet kan luister na die immergroen Afrikaanse liedjies waarmee ons grootgeword het,” sê Beukes en Myburgh, stigterslede van Die Rakkers. Die projek word in samewerking met die FAK, Afrikaans.com, AfriForum Teater en CO Productions aangepak.

Elke lid van die groep verteenwoordig ʼn kleur – rooi, groen, blou en geel – wat bydra tot die opvoedkundige waarde van die projek.

Beukes (rooi) is onder meer bekend vir haar rol in die kykNET-sepie Getroud met rugby. Sy is ook ʼn voormalige aanbieder van die gewilde maatsoekprogram Boer soek ʼn vrou, stemkunstenaar en ma van twee seuns.

Myburgh (blou) was tot einde 2021 ʼn aanbieder van Die Groot Ontbyt. Hy is ook te sien in die musiekfliek As jy sing, en ʼn pa van twee kleuters. Nel-Sekepe (groen), ʼn omroeper by JacarandaFM en TV-aanbieder, het hope ervaring in kinderteater en werk gereeld agter die skerms as vervaardiger.

Scott (geel) het as lid van die sanggroep Hi-5 begin voordat hy ʼn sololoopbaan aangepak het. Hy doen nou ook stemafrigting by sy eie sangskool.

Die bekroonde internasionale vervaardiger, Vaughan Gardiner – ook pa van twee woelwaters – is verantwoordelik vir die stem- en musikale verwerkings asook finale meng. Hy het dit vanuit Dubai behartig, terwyl Ferdinand Skead plaaslik die stemme opgeneem het.

Die Rakkers sê Afrikaans is die taal waarin daar gepraat, gedroom, stories vertel en musiek gemaak word.

“Afrikaans is nie net ʼn skatkis van woorde en gesegdes nie, maar ʼn diskoteek van musiek. Dit is tyd om nuwe asem in ou bekende Afrikaanse treffers te blaas en dalk selfs nuwe treffers vry te stel wat vir ʼn volgende generasie nagelaat kan word, terwyl ons deur dit alles, selfs net vir ʼn oomblik, vergeet van dit wat swaar en seer is.”

Johan Jansen van Vuuren, bemarkingsbestuurder van die FAK, meen dié projek is plesierig en hy voeg by dat die FAK ʼn trotse kultuurvennoot van Die Rakkers is.

“Meer as agt dekades nadat die FAK-Sangbundel die eerste keer in klaskamers, huise en die harte van Afrikaanssprekendes tuis geraak het, maak Die Rakkers dit weer plesierig vir oud en jonk om saam te kan sing.”

Milanie Vosloo, projekbestuurder van Afrikaans.com, sê dit is opwindend om deel hiervan te wees.

“Ons is opgewonde om deel van hierdie projek te wees wat in en deur Afrikaans vermaak en inspireer. Moedertaalonderrig is vir ons van groot belang en ons glo dat ons ʼn groot bydrae in die voortbestaan en bevordering van Afrikaans lewer deur in Afrikaans te skep op ʼn wyse waarby die jong generasies kan aanklank vind.”

Die AfriForum Teater het sonder om te skroom deel van hierdie projek geword wat gehalte- Afrikaanse kindervermaak skep, sê teaterbestuurder Carien Bloem.

“Om ou bekende FAK-liedjies af te stof en nuut te maak vir die jongspan was in die kol. Die voortbestaan van Afrikaans, ongeag die genre, sal altyd vir AfriForum Teater belangrik wees,” voeg sy by.

Corné Oosthuizen van CO Productions sê dit is lekker om saam met kunstenaars en rolspelers te werk wat ʼn onblusbare passie vir hulle taal het en wat aan die toekoms van Afrikaanse vermaak vir jong gehore bou.

“Ons hoop dat Die Rakkers ʼn vars nuwe asem in die vermaakkringe sal wees: van feeste tot kinderpartytjies,” sê hy.

Volg Die Rakkers op Facebook, Instagram en Twitter, of stuur ʼn e-pos na [email protected] om meer te wete te kom.

  • Luister boaan die berig na die onderhoud met Nadia Beukes, Pulane Nel-Sekepe, Hendri Myburgh en Lee Scott, oftewel Die Rakkers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.