Luister: Nuwe horisonne wink vir Pieter Rischmuller

Vir langer as ʼn dekade het hy as Piet Pompies saam met die dinamiese en skreeusnaakse musiekgroep DJ Ossewa opgetree en treffers soos “Stukkie van der Merwe” en “Briljantjie” het steeds dansvloere dwarsoor die land aan die brand.

Nou is dié Pretoriase sanger, Pieter Rischmuller, terug met ʼn splinternuwe soloalbum, getiteld My Harlekyn, en is hy oorgehaal om die musiekwêreld op sy eie aan te pak.

Rischmuller vertel hy het reeds in 2014 sy vlerke gesprei en as Piet Pompies sy debuutsoloalbum, Solo, bekendgestel. Hy het drie jaar lank met dié album die land platgetoer. Met sy jongste projek het hy egter besluit dit is tyd om onder sy eie naam die meer ernstige kant van sy musikale persoonlikheid te deel.

“Ek het saam met DJ Ossewa vele en goeie albums uitgebring en ons het ʼn hele rits toekennings verwerf, maar ek wou graag my meer musikale kant ook vir die publiek wys,” vertel Rischmuller in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Dié album lê hom, ná 22 jaar in die musiekbedryf, na aan die hart. “Die nuwe album bevat beslis meer sielskos. Daar is meer van wat aangaan in my hart en in my lewe en ek sing oor dinge wat ek sien en ervaar. Met DJ Ossewa het ons pretmusiek en kuiermusiek gemaak waar ons sommer oor enige nonsens sing,” lag hy. “Met My Harlekyn wou ek ernstiger wees en meer uit die hart uit sing. Die album bestaan uit lekkerluistermusiek en ek hoop dit vind aanklank by baie mense.”

Hy vertel een van die snitte op die album, “Goodbye is net vir nou”, is ʼn dieper lied wat hy geskryf het vir mense wat al iemand aan die dood afgestaan het. “Miskien het jy nie die geleentheid gehad om vir iemand totsiens te sê nie. Die liedjie gaan oor daardie laaste woorde waarmee jy iemand sou groet.”

Pieter en Tertius Human werk aan die album. (Foto: Facebook)

Pieter en Tertius Human werk aan die album. (Foto: Facebook)

Die titelsnit van die album is die een wat hy glo mense dansvloer toe sal lok. “Die snit vaar tans baie goed op die radiospeellyste. Dit is ʼn liedjie wat gaan oor vreugde en om mistroostigheid in ʼn glimlag om te draai. Nog ʼn snit wat ek glo mense se voete sal laat jeuk, is “Bring net jou sussie saam”. Ons het die spot gedryf met dié liedjie, waar elke man homself in die situasie kan indink waar hy pelle met iemand maak, en dié vriend het ʼn mooi sussie,” lag hy.

Die groep Cinema, wat destyds onder leiding van die publisiteitsghoeroe Lydia Winchester een van Suid-Afrika se grootste uitvoerprodukte in die buiteland geraak het, se treffer “My Kind of Girl” is ook deur Rischmuller vir dié album opgeneem. “Tannie Lydia is ook nou my publisiteitsbeampte en daarom het ek besluit ek gaan hul liedjie afstof en my eie maak.”

Rischmuller sê hy glo sy album kan help om die negatiwiteit in die land hok te slaan. “Met die album wil ek sê jy moet glimlag. Ek wil vreugde en hoop skep. Daar is ʼn plan met alles, al weet jy nie nou dadelik wat dit is nie. Vat elke dag soos dit kom, want jy weet nooit wat bring die dag van môre nie. Dit help nie jy sit in sak en as en gaan jou dag omkrap deur heeltyd aan negatiewe goed te dink nie. Ek glo in karma – positiwiteit trek positiwiteit aan.”

My Harlekyn is beskikbaar by groot musiekhandelaars, asook aanlyn en by Rischmuller se vertonings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.