Luister: Nuwe musiekduo ‘anders, maar 100% eg’

John James (Foto: Verskaf)

Die nuwe musiekduo John James het pas hul eerste enkelsnit genaamd “Ek is meer werd” vrygestel en dié liedjie het sommer gou sy posisie op Maroela Media se Afrikaanse Top-20 ingeneem.

Boonop was John James ook vanjaar saam met groot name in die bedryf by die Krone-konsert te sien.

Chris Delport (21), bekend as John op die verhoog, en James Janse van Rensburg (21) het 11 jaar gelede hul musiekpad saam begin. Hulle het wel eers onlangs die musiekgroep John James gestig.

“Ons het op laerskool op die speelterrein ontmoet,” vertel John. “Ons het albei ʼn passie vir musiek gehad; dis net ʼn ding wat uit ons families kom. En toe ons besef ons albei het ʼn passie daarvoor, het ons so ʼn jaar nadat ons ontmoet het, saam begin musiek maak.”

James sê John het ʼn basiese ateljee in sy huis se agterplaas gehad, en dít is waar alles begin het.

“Ons het so half die mikrofoon oor ʼn stuk draad oor die balk van die dak gehang om musiek op te neem. Ons het só ʼn passie vir musiek gehad dat ons nie omgegee het in watter omgewing ons is nie. Ons het net die beste gedoen met dit wat ons gehad het,” vertel hy.

John James (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

John skryf die lirieke en is verantwoordelik vir die kletsrym-gedeeltes van hul liedjies. James hanteer die musiek en is die hoofsanger. Al hul musiek kom uit hul eie penne, met die hulp van Niel Schoombee van Select Musiek.

John en James vertel “Ek is meer werd” is geskryf tydens ʼn donker tydperk in dié sangers se lewe, en daarom meen hulle hul musiek gaan oor dinge waaroor mense nie wil praat nie.

“Goed soos depressie, angs en alles wat jou lewe regtig diep raak, is dinge waaroor mense te bang is om te praat. Ons wil bewustheid daaroor skep en ʼn stem daaraan gee. Ons wil die buiteperde van die lewe ʼn stem gee,” sê John.

James sê dit is vir hulle belangrik om ʼn boodskap met hul musiek oor te dra sodat mense weet dit maak nie saak wat in jou lewe gebeur of watter struikelblokke jy oorkom het nie, jy is meer werd as daardie deel van jou lewe.

John James (Foto: Verskaf)

Die groep sê hul musiek is anders as wat tans in die Afrikaans musiekbedryf beskikbaar is. Hulle beskryf hul musiek as “100% eg”. “Dit het baie waarheid en betekenis,” sê James.

John James het hul debuut by die Krone-konsert in Pretoria gemaak, en hulle is reeds baie goed ontvang.

“Ek dink mense wat in dieselfde kopruimte as ons was toe ons dit geskryf het, vind aanklank daarby. Die reaksie wat ons tot dusver gekry het, is baie goed,” sê John.

“Krone was ʼn massiewe ervaring, dit was die eerste keer ná skool dat ons saam op ʼn verhoog opgetree het. Dit was ʼn groot ervaring by Krone en net die feit dat hulle ons daar wou hê, was wonderlik,” sê James.

John James is steeds besig om aan nuwe musiek te werk sodat hulle nog enkelsnitte kan uitbring, voordat hulle ʼn album vrystel.

“Ek is meer werd” is op alle digitale platforms beskikbaar. Vir meer inligting of besprekings, besoek hul Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Georgie ·

WOW ouens julle Rock! Mal oor julle klank en die boodskap van hierdie song – soo belangrik in hierdie tyd waarin ons leef. Meer van julle nodig. Hou so aan.

Lenca ·

Wow
Dit is my oorwinnings liedjie.
Dankie julle , julle is gebles

Gert ·

Dis nie my tipe musiek nie, maar hierdie is n amazing liedjie.
Uitstekende lirieke.
Well done boys!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.