Luister: Nuwe sangduo ‘het storie om te vertel’

Reinhard en Karin Herbst van RNK. (Foto: Facebook)

Reinhard en Karin Herbst het as die sangduo RNK al ʼn paar enkelsnitte opgeneem en vrygestel, maar nou is hulle slaggereed om die Afrikaanse musiekbedryf trompop te loop met hulle splinternuwe snit “Alles vir my”.

Reinhard en Karin is reeds sedert hulle skooldae saam en is 12 jaar getroud. Hulle is ook die ouers van drie seuns.

Mense moet egter nie dink hulle is Suid-Afrika se nuwe weergawe van Min Shaw en Lance James of “Die Lieflinge” nie, spot hulle.

“Ons het in 2018 besluit om ons troue- en begrafnis-sangvermoë – want dit is hoe dit begin het – ʼn bietjie meer na die professionele platforms toe te neem,” vertel Reinhard in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Die naam RNK is geskep toe hulle op een van hulle eerste vertonings vir Jo Black geopen het en naamloos was.

“Ons het op ʼn plattelandse dorp grootgeword en het so saam-saam om braaivleisvure en by dorpskonserte gesing. Die organiseerder van een van ons eerste vertonings het gevra wat is ons groep se naam. Ons het toe nog nie ʼn naam gehad nie en het sommer gesê sy moet ons adverteer as R&K. Sy het toe RNK gehoor en so is die naam gebore.”

Die duo se nuwe enkelsnit is heeltemal anders as hulle vorige enkelsnitte, “Springbok pronk” en “Nashville in Afrikaans”. Al hulle liedjies word deur die bekroonde vervaardiger Byron Keno in Australië vervaardig. Keno het onder meer musiek vir groot name in die bedryf soos Gerhard Steyn en Juan Boucher gemaak.

“Dit is ʼn wonderlike reis in die bedryf en hier is ons vandag, RNK, amper drie jaar al op die been,” sê Reinhard.

“Alles vir my” is ʼn eg Afrikaanse ode aan die liefde. “Ons glo daar is ʼn dieper boodskap in die liedjie as wat die blote oor kan hoor. Ons vertrou dat die liedjie mense wat uitmekaar gedryf het, weer bymekaar sal bring.”

Die liedjie is saam met ʼn vriend van die paartjie, Kenny van Zyl, geskryf. “Kenny het ʼn gedig vir sy vrou geskryf vir hulle 20ste huweliksherdenking en my genader om dit te toonset. Die melodie het sommer natuurlik gekom en ek het ook die koorgedeelte van die liedjie herskryf,” sê Reinhard.

“Ek het vir Kenny gesê ek dink nie dit gaan net ʼn song vir sy vrou wees nie, want ek dink die hele Suid-Afrika moet dit hoor.”

RNK. (Foto: Verskaf)

“Alles vir my” deel ʼn boodskap oor die liefde en hoe ʼn mens daardie een persoon vind wat jou lewe voltooi. “Daardie gevoel as ʼn mens lank getroud is en baie kinders het en jy weet wat jy in jou lewensmaat het, is onbeskryflik.”

Reinhard vertel talle radiostasies oor die hele land het “Alles vir my” aanvaar en dat die terugvoer oor die liedjie oorweldigend positief is.

“Die terugvoer van die radiostasies is dat die liedjie vars is en dat hulle mal is oor die klank daarvan. Hulle sê hulle kan nie regtig ʼn genre daaraan koppel nie. Dis ʼn bietjie pop en ʼn bietjie country – wie weet, miskien is dit die begin van iets nuuts.”

Hulle is opgewonde oor wat die toekoms inhou, sê hy. “Ek dink regtig ons het ʼn storie om te vertel. Omdat ek die meeste van die liedjies skryf, voel ek werklik daar is iets op my hart wat ek wil deel. Ek glo die waardes wat jy in jou hart dra, sal oorgedra word in jou musiek. Net soos kunstenaars soos Jo Black wil ons ook hoop skep en mense se harte aanraak.”

“Alles vir my” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.
  • Volg RNK op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.