Luister: Nuwe Snotkop-album: ‘Pret van begin tot einde’


'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

Die bekroonde sanger Snotkop het pas sy jongste album vrygestel en sê aanhangers moet hulself regmaak vir “groot konsternasie”.

Die naam van die album, HKGK, is ʼn afkorting vir die woorde “hier kom groot konsternasie”. “Maar aanhangers moet maar vir hulself besluit waarmee hulle die laaste woord wil vervang. Kom ons maak dit sommer kattekwaad,” skerts hy.

Die sanger vertel dié album is eie aan Snotkop se energieke en lewendige musiek. “As jy dié CD gaan speel, gaan jy definitief groot partytjie hou. Die lewe is heeltemal te kort om ernstig te wees. Jy moenie jouself te ernstig opneem nie. Ek is ʼn positiewe mens en kyk altyd na die goeie in die lewe. Die album is pret van begin tot einde.”

Snotkop sê hy hou egter nie só baie partytjie in sy persoonlike lewe nie. “Mense dink altyd ek is ʼn groot partytjiedier. Ek is, maar ek drink nie baie nie,” lag hy kliphard. “En dis die waarheid. Ek oefen hard, drink baie water en bly meestal weg van slegte en ongesonde goed. Dis belangriker om jonk te wees in jou hart as om jonk te lyk.”

Hy sê HKGK is sy gunsteling-album. “Hierdie album is die lekkerste een wat ek tot dusver opgeneem het. Mense kan vanaf die eerste snit verwag om ʼn moewiese smile op hul bakkies te hê. Dis ʼn stoute album, maar dis wie ek is in my musiek.

“Die hele idee van my handelsmerk is om nie die lewe te ernstig op te neem nie. Ek het wel ook ernstige liedjies, soos ‘ʼn Song vir my dad’. Maar ek dink ek wil pret hê en mense leer om mekaar te geniet.”

Die sanger sê ook alledaagse dinge inspireer hom om musiek te skryf. “Die meeste van my liedjies is gebaseer op iets wat ek al beleef het. Ek het ʼn liedjie op my nuwe album, ‘Raak vir my rustig’. Dit gaan oor ʼn vriend wat altyd gejaag is en nooit net ontspan nie. Raak net rustig. Mense moet ontspan, alles gaan uitwerk.”

Snotkop is op 13 en 14 Augustus by die Krone 3-konsert by Carnival City te sien.

Vir meer inligting, besoek sy Facebook-blad en webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frikkie Mulder ·

Ek vind dit baie vreemd dat ons wat hier kommentaar lewer Maroela Media se “bepalings en voorwaardes” moet aanvaar, terwyl ‘n perverse sanger met ‘n album wat seksuele onreinheid en skaamtelose losbandigheid uitbasuin ge-adverteer word. Is daar iemand wat kan verduidelik asseblief?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.