Luister: Nuweling maak opslae met ‘Karlien se stap’

Die jong, opkomende sanger Vincent Gordon het die Afrikaanse musiekbedryf soos ʼn warrelwind getref met sy enkelsnit “Stap soos Karlien”.

Gordon het in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media gesê die inspirasie vir die liedjie het gespruit uit die manier waarop die popsangeres Karlien van Jaarsveld stap in haar musiekvideo vir haar treffer “Hande”.

“Die liedjie gaan oor ʼn meisie wat baie mooi is, maar daar is baie goedjies wat sy nie kan doen nie, soos sing en lekker kos maak, maar ten minste kan sy stap soos Karlien,” het Gordon oor dié speelse snit verduidelik.

“Daar is net iéts aan die manier waarop Karlien loop.”

Die liedjie is geskryf deur Gordon, Ferdinand Skead en Waldo Greeff. “Dit was baie pret! Ons het eers gewik en weeg of ons die liedjie moet aanpak of nie, maar ek is baie bly ons het dit gedoen. Almal wat daaraan gewerk het, het dit verskriklik geniet.”

Die sterbelaaide musiekvideo vir die liedjie is al bykans 23 000 keer op YouTube gekyk. Afrikaanse bekendes soos die popgroep Tussen Sterre, die sangeres en aktrise Sorina “Die Flooze” Erasmus, die sosialemediasensasie en komediant Craig du Toit Nel, Ramey Short van Binnelanders-faam, die sangeres Sharoney en die voormalige mnr. SA John Owens is almal in die video te sien.

Die video is by Casa Grande Guest Lodge, waarvan Du Toit Nel die eienaar is, geskiet en Van Jaarsveld is self ook in die video te sien. Sy het dieselfde rok wat Mej. Wêreld, Demi-Leigh Nel-Peters, tydens haar kroning gedra het vir die video gekies. Die rok is ontwerp deur Anel Botha.

Vincent Gordon. (Foto: Facebook)

Vincent Gordon. (Foto: Facebook)

“Karlien is mal oor die liedjie,” het Gordon gesê. “Veral die dag dat ons die musiekvideo geskiet het, was sy baie verbaas en beïndruk met hoe alles inmekaar gepas het. Ons glo alles moet uiters professioneel en mooi in plek wees.”

Gordon se eerste vollengte-album, getiteld Asem, sal na verwagting in Januarie 2019 uitgereik word. “Ferdinand het saam met my geskryf aan die musiek vir die album. Die titel is Asem omdat dit soos ʼn nuwe asem is vir my. Ek wil vir die publiek wys hier is ek, dit is my asem én ʼn nuwe hoofstuk in my loopbaan en in my lewe.”

“Stap soos Karlien” is beskikbaar op alle digitale platforms.

*Kyk onderaan die video vir ‘n lekker kompetisie en skryf in.

Wen

Een gelukkige leser staan die kans om ʼn dubbelkaartjie te wen na Afrikaans is Groot by Times Square Sun Arena in Menlyn, Pretoria. Die datum vir die vertoning sal later bevestig word. Die kompetisie sluit Donderdag 1 November om 10:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Aggenee! ·

Jammer, dalk het ek net te veel verwag na die vreeslike ophemeling in MM se berig. Ek kan eerlikwaar nie agterkom waaroor die bohaai gaan nie. Net nog n tipiese Afrikaanse liedjie … sug!

Bernice ·

“…She can’t sing, She can’t dance, but who cares, when she walks like Rihana…” Is al wat ek aan dink. Dalk inspirasie by n “boyband” gekry?

glad nie mooi nie ·

@Aggenee! Ek stem! Dis nou glad nie so cool soos hulle se nie.

Sterre ·

Ek sien ook nie dat karlien snaaks/vreemd of watokal loop in haar musiek video “hande” nie… ek dink hulle gaan “famous” word omdat hulle n “famous sangeres” gebruik het om n lied oor te skryf en sy self in die musiek video verskyn! Dis al wat dit is:)

Biltong ·

Ag Hemele tog!! Raak nou speels oor n vrou se loop. Siestog, hy probeer.

Lekker lag ·

Wereldklas snert. Klink of dit onder ‘n lapa opgeneem is. Woorde maak nie sin nie en meeste akteurs in die video is hoog op die fieta liga.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.