Luister: Onopgesmuk, sê Rooies: ‘Ek wil nét sing’


Rooies, oftewel Rudi Grobbelaar (Foto: Facebook)

Rooies, oftewel Rudi Grobbelaar (Foto: Facebook)

Hy wil nie beroemd óf bekend wees nie, meen die Afrikaanse sanger Rooies, oftewel Rudi Grobbelaar: Hy wil musiek maak wat mense laat lag en huil – wat hy gewis met sy jongste album probeer doen.

Dié sanger het onlangs sy tiende album, Koedoebul, uitgereik. Hy vermaak gehore al sedert 1999, maar vertel “dié album gaan die grootste treffer nóg wees”.

“Ek is baie opgewonde. Ek dink elke kunstenaar prys altyd die nuwe produk, maar dit is beslis die beste musiek wat ek die afgelope dekade gemaak het. Ek is soos ʼn skouperd met dié album: Alles, van die verwerking en die lirieke tot die liedjiekeuses en die klank is op ʼn baie hoë standaard,” sê hy.

Hoewel hy voorheen meestal van die liedjies wat in sy albums verskyn het self geskryf het, het hy met dié album onder meer insette van die liedjieskrywer Ben Beukes gehad.

Die album het, eie aan Rooies, ʼn ligte kant met ʼn klomp saamsingliedjies, maar wys dié keer ook die sanger se ernstiger kant.

“Ek dink nie almal het die geleentheid om te ervaar wat ons as kunstenaars op die oop pad na konserte of op toer ervaar nie. Elke dorp en plekkie het sy eie uniekheid, en alles wat ek skryf is goed wat gebeur het of wat ek ervaar het. Dit gebeur dikwels in die meer humoristiese liedjies dat dit iets is wat werklik beleef het.

“Dit is natuurlik ook belangrik dat mense my liedjies as ‘storiemusiek’ beleef sodat hulle dit wat ek ervaar het, ook op die mees egte manier kan beleef. Maar die album bevat nie net humoristiese liedjies nie en wys ook ʼn ander sy van my. Ek was maar nog altyd ʼn diep mens en het onder meer ook ʼn gospel-album geskryf wat nog nie uitgereik is nie. So, daar is ook ernstige liedjies. Ek dink ek is genoeg mal op die pad en snaaks op die verhoog, so, wanneer ek tuis is, raak ek stil. ʼn Mens moet afskakel en kan mens wees,” voeg hy by.

Die album bring ook hulde aan van sy ikone soos Zak van Niekerk en Zirk Berg. Hy meen dié kunstenaars het ʼn groot rol in sy musiekloopbaan gespeel. “Die grootste lesse wat ek in die lewe geleer het, was by hulle, en dit is om nederig en plat op die aarde te bly. Toe ons destyds by die KKNK die nuus kry dat Zak dood is, het almal onmiddellik hartseer en emosioneel geraak, en talle het gehuil. Ek wil só ʼn vriend vir mense word.

“Ek wil daarom nie beroemd wees nie. Ek wil op Upington stilhou en saam met my vriende sing. Dan wil ek die paar randjies wat ons maak bestee aan ʼn bottel Oros, en dan vertrek na die volgende dorpe.”

Die album is landwyd beskikbaar in musiekwinkels en op iTunes.

Vir meer inligting besoek Rooies se Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.