Luister: Oorwurm-treffer plaas kollig op nuwe Afrikaanse duo

Marco van Deventer en Ruvé Erasmus van ONS. (Foto: Hendri van Skoll Photography)

Volgens Marco van Deventer van die duo ONS is sy sangmaat Ruvé Erasmus se talent om melodieë te skryf. Dié talent is klaarblyklik in haar bloed, aangesien haar oupa, Dopper Erasmus, die oorspronklike skrywer was van Carike Keuzenkamp se debuuttreffer van ouds, “Timothy”.

“Timothy was eers Dorothy, want dis uit my oupa se perspektief vir ʼn vrou geskryf. My ouma was saam met Carike in die koshuis en toe hulle haar nader om die liedjie te sing, het hulle die naam verander,” verklap Ruvé.

Dié ingebore passie vir musiek het uiteindelik die oorhand in haar eie lewe gekry, sê sy.

“Ek het my hele lewe lank netbal gespeel, maar uiteindelik het netbal en musiek te veel tyd in beslag geneem en ek moes kies. Musiek het loshande gewen.”

Toe Ruvé en Marco mekaar op Ruvé se broer se 21ste verjaardagpartytjie ontmoet het, het nie een van hulle kon dink hulle sou etlike maande later een van Coleske Artists se splinternuwe musiekduo’s wees nie.

Die jonge Ruvé en Marco het onlangs as die duo ONS aandag getrek met die enkelsnit getiteld “Daai liedjie”, en skryf die sukses van die liedjie en sy oorwurm-gehalte aan die vervaardigers by Coleske se kundigheid toe.

ONS het onder Coleske se aandag gekom toe hulle die liedjie op sosiale media gedeel het, en vertel in Maroela Media se ateljee dit het werk aan Marco se kant gekos om vir Ruvé te oortuig om hul musiek op dié wyse te deel.

Marco is gewoond aan sosiale media en het selfs sy eie komiese blad, Wees ʼn Man, met sowat 20 000 volgelinge op TikTok bestuur. Hier maak hy lighartige video’s wat sy volgelinge laat skater.

“Dit is senutergend,” erken Ruvé, wat by Pietersburg Hoërskool as netbalspeler uitgeblink het en reeds in gr. 11 die land op die netbalbaan verteenwoordig het.

“Dit kan regtig goed gaan, of baie sleg gaan en ʼn .mens is bekommerd oor wat mense op sosiale media gaan dink, maar Marco het vir my herinner dat as dit werk, dit ons lewens kan verander. Daarom het ons die risiko gevat.”

Dit het duidelik gewerk, want dit is juis op TikTok waar die grootbase by Coleske die twee jong musikante raakgesien het en blitsvinnig werk gemaak het van ʼn enkelsnit se uitreiking.

Marco en Ruvé van ONS. (Foto: Hendri van Skoll Photography)

Die liedjie het sedert sy uitreiking groot kommersiële sukses behaal en het selfs ʼn draai op Maroela Media se Afrikaanse Top-20 gemaak.

“Ons het gedink daar is genoeg mense om te luister na verskillende tipes musiek, so ons sal waarskynlik iemand kry wat van ons musiek hou, en dit het ten goede meegewerk.”

ONS beskryf “Daai liedjie” as ʼn nostalgiese snit uit hulle eie pen. Die liedjie gaan oor die gevoel wat ʼn mens kry wanneer jy ʼn liedjie hoor en dit laat jou dan aan iemand spesifiek dink.

Marco kom van Middelburg in Mpumalanga en het aan Hoër Tegniese Skool Middelburg gematrikuleer.

Hy sê hy het aanvanklik leer kitaar speel om ʼn meisie te beïndruk en dit was die begin van sy musikale reis.

Hy erken vol selfvertroue dat hy in ONS geglo het van die eerste oomblik af, ten spyte van Ruvé se aanvanklike skugterheid vir sosiale media.

“Ruvé se broer, Riekert, het aanhoudend vir my gesê ek moet sy suster ontmoet, want sy maak ook musiek en hy dink ons sal goed saam kan werk. Nadat ons by sy 21ste verjaardagpartytjie ontmoet het, het ons koffie gedrink en begin musiek maak. Ek het dadelik geweet dis iets wat ons moet aanpak.”

“Daai liedjie” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met ONS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.