Luister: Op net 20 gereed om sy merk te maak

Almero.

Almero.

Almero is ʼn kunstenaar in murg en been en woeker reeds van ʼn jong ouderdom af om sy voete in die vermaakbedryf te vind.

Dié 20-jarige musikant, skrywer en digter het in sy kort loopbaan reeds die titelsnit van ʼn vollengte rolprent, ʼn hele rits enkelsnitte én ʼn digbundel op sy kerfstok en nou is hy besig om sy eerste vollengte album op te neem.

“Ek het baie opwindende planne vir ʼn vollengte album,” vertel Almero in Maroela Media se ateljee. “Dit is waarmee ek die afgelope drie maande voltyds besig is. Ons beoog om die album einde September of begin Oktober vry te stel.”

Hy sê hoewel die album ʼn klein projek is in vergelyking met groot name in die bedryf, probeer hy sover moontlik alles self doen en beloof hyom iets vars en nuut na die tafel te bring.

“Ek het onder meer vier liedjies saam met Danie du Toit van Spoegwolf geskryf. Dit is vir my ʼn droom wat waar geword het, want ek is absoluut mal oor hom.”

Almero het in 2017 saam met die akteur en musikant Bouwer Bosch die titelsnit vir die Morné du Toit-rolprent “Nul is nie niks nie” geskryf en uitgevoer en sedertdien is die bal aan die rol vir dié oud-Bloemfonteiner.

“Die eerste ding waaraan jy dink as jy Bloemfontein hoor, is ongelukkig nie musiek nie. Ek het van kleins af klavierlesse geneem en dit het ʼn passie geword. Ek het egter nooit daaraan gedink as iets wat ek voltyds kan doen nie, want ek het in ʼn konserwatiewe Afrikaanse huishouding grootgeword waar jy moet gaan studeer, ʼn vaste werk kry, trou en kinders kry en niks roekeloos aanvang nie.”

Hy en sy broer, die vervaardiger Nico Welgemoed, het ná skool tydens hul wegbreekjaar by hul tannie op Mosselbaai afgepak en het besluit om elke dag iets kreatiefs te doen. “Ons het elke dag ʼn liedjie geskryf of ʼn video opgeneem of een of ander vorm van kuns gemaak en ons het dit doelbewus in die groot niks in gestuur deur middel van Facebook, YouTube en Instagram,” verduidelik hy.

Dié stokperdjie het nie lank gevat om in ʼn loopbaan te ontwikkel nie en vandag is hy en Nico albei voltyds besig in die vermaakbedryf. “Ons het geleenthede begin kry om ons talente verder te ontwikkel in iets wat vir ons ʼn inkomste kon bring, maar wat ook kreatief stimulerend is.”

Sy jongste enkelsnit, “Monochromie”, is ʼn kragballade wat hy saam met Ruan Graaff geskryf het. “Johannesburg is nie die mees huislike plek nie en sedert ek en my broer uit ons ouerhuis getrek het, hunker ek na iets of iemand wat ek ‘huis’ kan noem. Huis is nie noodwendig ʼn plek nie, maar dalk ʼn persoon. Dit is vreeslik romanties, digterlik en cliché, maar ek glo daarin.”

Almero is ʼn ywerige skrywer en digter en het in 2017 die Liefde Wen-amateurdigbundel saam met Bouwer Bosch saamgestel. Hy het ook sy eerste bundel, Donderweer gedagtes, uitgereik. Hy beskryf dié bundel as “ʼn harwar van klomp skryfstukke”.

“Daar is briewe en kort gesprekke van mense wat ek afgeluister het in die Mugg & Bean,” skerts hy. “Daar is ook gedigte en dit eindig met ʼn antologie van kortverhale wat op ʼn manier almal in mekaar pas. Dit vorm dan ʼn groter prentjie.”

Hy gee toe dat die boek die lelike kant van die lewe uitbeeld. “Ons as Afrikaners het ʼn kultuur waar ons alles onder die mat invee en ons vermy baie ernstige onderwerpe, waaroor ek voel gepraat moet word. Ek dink die verantwoordelike manier om die gesprekke te begin is deur kuns.”

Daar is verskeie gewigtige temas wat aangeraak word soos selfdood, depressie, mishandeling en alkoholmisbruik. “Ook die misbruik van die mense om jou. Die verhale wat vertel word, is ware verhale. Mense sal wil dink dat ek dit net uit my duim gesuig het en dat daar nie werklik sulke donker dinge in die wêreld gebeur nie, maar dit is alles uit persoonlike ervaringe geskryf en stories wat ander mense my vertel.”

Almero sê die boek eindig wel op ʼn ligte punt. “Dit wys dat jy kan aanbeweeg en tog oukei wees te midde van die harwar wat ons die lewe noem.”

“Monochromie” is beskikbaar op alle aanlyn platforms. Donderweer gedagtes is te koop by groot boekhandelaars en by Naledi Online.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.