[Luister] Patrizio Buanne sing saam met Afrikaanse sterre

Patrizio Buanne (Foto: Maroela Media)

Patrizio Buanne (Foto: Maroela Media)

Die internasionale Napolitaanse minnesanger, Patrizio Buanne, het pas sy jongste album, Viva La Dolce Vita, vrygestel en aanhangers van dié sanger kan uitsien na ’n bonus-CD met treffers saam met plaaslike sangers soos Steve Hofmeyr en Juanita du Plessis.

Patrizio het onlangs in die Maroela Media-ateljee kom kuier, en vertel Suid-Afrika en Afrikaans het ʼn spesiale plek in sy hart.

Die sanger, wat spog met multiplatinum-albumverkope, vier vanjaar ʼn tien jaar lange verhouding met Suid-Afrika.

“Ek het ʼn nou band met my Afrikaanse en Suid-Afrikaanse aanhangers. Dit is baie spesiaal om na ʼn land ver weg van joune te gaan en dan so hartlik ontvang te word. Mense hier behandel my met soveel respek en liefde, en dan is die land self ook nog so mooi, met soveel verskillende en interessante kulture. Ek wil aanhou terugkom hierheen en aanhou musiek maak waarna mense gaan luister,” het hy vertel.

Hy tree al langer as ʼn dekade in uitverkoopte teaters in Europa sowel as Australië, Rusland en die VSA op, en het al voor bekendes soos die pous, koninklike families en vorige VSA president, George W. Bush, opgetree.

Aanhangers hang omtrent aan die sanger se lippe vir veral sy romantiese liedjies. “Ek het grootgeword met my ouers wat klassieke liedjies van die jare vyftig en sestig in hulle restaurant in Napels, Italië, gespeel het. Ek het altyd saamgesing, maar besluit om liewer later rock ’n’ roll te sing. Ek het goed gedoen daarmee, en het mooi kitaar gespeel en rondgespring op die verhoog, maar dit het my gepla dat die lirieke nie diepte het nie. Ek hou van lirieke wat iets beteken,” het hy vertel.

Sy album Viva La Dolce Vita is uitgereik om sy tien jaar in die musiekbedryf te vier sedert die uitreiking van sy eerste internasionale album, The Italian.

Die album is sy vierde internasionale album en het soos al die voriges ook reeds oorsee platinumstatus bereik.

“La dolce vita beteken ‘om die goeie lewe te leef’, en ek sien dit as my eie lewe. Daarmee sê ek nie my lewe is perfek nie. Daar is baie hartseer goed wat rondom ons gebeur, maar ek glo dat ʼn mens ʼn positiewe lewensuitkyk moet hê. Daar is baie positiewe, goeie energie in die liedjies en ek glo dat dit mense gelukkig sal maak as hulle daarna luister, want dit maak my gelukkig om dit te sing.”

ʼn Bonus-CD, wat aanhangers in Suid-Afrika saam met die album kry, bevat bekende liedjies soos “Liefling” saam met Steve Hofmeyr, “Always on my mind” saam met Juanita du Plessis en “Ek mis jou elke dag ʼn bietjie meer” saam met Corlea Botha.

Die sanger is ook op 30 Julie by die Classics is Groot-konsert te sien. Kunstenaars soos Jannie Moolman en Corlea Botha sal onder andere ook saam met Patrizio optree.

Besoek die sanger se Facebook-blad en webwerf.

Kaartjies vir Classics is Groot is beskikbaar op Ticketpro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.