Luister: Phil Collins se musiek herleef

phil-collins-02

Victor James Chapman is die talentvolle tromspeler-sanger in die “One More Night” produksie. Foto: Verskaf.

As jy hou van die 80’s se musiek kan jy uitsien na ʼn vertoning wat hulde bring aan die musiek van die Britse musiekmaker Phil Collins.

One More Night – The Ultimate Phil Collins Tribute Show is van Donderdag 17 November vir drie weke op die planke by Emperor’s Palace in Johannesburg.

In dié dinamiese produksie wat sowat twee uur duur is die talentvolle tromspeler-sanger Victor James Chapman die hoofsanger. Hy het al die verhoog gedeel met plaaslike bekendes soos Dozi, Tree63, Wonderboom, Sugar Drive en Mean Mr Mustard. Chapman word ondersteun deur ʼn orkes van tien lede.

“Die gehoor kan ook uitsien na twee tromstelle op die verhoog soos dit in die klassieke Collins-styl gedoen word. Kitaarsolo’s en koperblaasinstrumente sal verder lewe in dié sanger se treffers blaas,” sê Lise-Marie Keyser, vervaardiger van die produksie.

“Vir dié produksie het ons deeglike navorsing gedoen en meer gaan uitvind oor Collins se lewe en die oorsprong van elke liedjie. Hierdie staaltjies word so tussen die musiek deur in die vertoning ingeweef.”

phil-collins-03

Foto: Verskaf.

One More Night word deur Add-Life Productions vervaardig, wat sedert 2007 bekend is vir hulle gewilde Afrikaanse musiekspele soos Sneeuwitjie, Aspoestertjie, Droomkind, Dawid, Ester en Houtkruis. Hulle het ook Buddy – The Buddy Holly Story op die planke gebring en het Liefling ook vir die verhoog verwerk. Dié Phil Collins-produksie is hul jongste produksie ná die sukses van die Broadway-treffer From the Footlights.

Die speelvak van One More Night – The Ultimate Phil Collins Tribute Show duur tot 4 Desember. Bespreek by Computicket en besoek Emperor’s Palace se webwerf vir meer inligting.

  • Esté Meyer Jansen het met Lise-Marie en Renier Keyser, die vervaardigers van die Phil Collins-huldeblykvertoning, gesels. Luister bo-aan die berig na die onderhoud om uit te vind wat hierdie vertoning so besonders maak.

Om jou opgewonde te maak oor dié huldeblykvertoning deel ons “Another Day in Paradise” van Phil Collins:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.