Luister: Pieter Marcato dis nuwe country-geur op

Pieter Marcato.

Pieter Marcato het al ʼn hele rits lekkerluister enkelsnitte die lig laat sien, maar met sy jongste enkelsnit “Ek onthou jou” stel hy vir die eerste keer ʼn country-geur in sy musiek bekend.

Marcato wat voorheen die radiogolwe getref met enkelsnitte soos “Lekker tye” en “Swipe regs”, vertel hy is gek oor die nuwe country-styl wat hy in sy musiek ontsluit het.

“Die terugvoer wat ek oor ‘Ek onthou jou’ kry is heerlik. Ek hou baie van die nuwe klank waarmee ek gespeel het en ek dink daaraan om nog ʼn paar snitte in dié genre te skryf vir ʼn vollengte album,” sê hy.

“Ek onthou jou” vertel die storie van wanneer ʼn paartjie op ʼn klein dorpie uitmekaar is en sukkel om aan te beweeg.

“Dis nie maklik nie, want hulle sien mekaar steeds by plekke op die dorpie waar hulle woon en boonop het hulle gemeenskaplike vriende,” verduidelik Pieter. Die liedjie is geïnspireer deur ʼn vriend wie se verhouding tydens die inperking tot ʼn einde gekom het.

Josh Oosthuizen speel die kitaarsolo in die liedjie. “Ek voel dit is een van die mooiste liedjies wat ek al geskryf het en ek is mal oor Josh se solo.”

Met ʼn baba in die huis is dit byna nooit stil genoeg nie en het hy al geleer om daarmee saam sy musiek te skryf. Marcato en sy vrou, Karin, se dogtertjie, Amila, het onlangs haar eerste verjaardag gevier.

“Voor Amila se geboorte het ek morbiede musiek geskryf en liedjies wat soms vreemde temas gehad het, maar nou skryf ek gelukkige, opgewekte musiek met ʼn positiewe boodskap,” sê hy oor sy dogtertjie se invloed op sy musiek.

Benewens sy solomusiekloopbaan is Marcato ook deel van die musiekgroep Marcato en die mannegroep EON.

Hy vertel Ben van Zyl, mede-stigterslid van Marcato, het intussen van Pretoria na George in die Wes-Kaap verhuis. Hoewel hulle meer as ʼn jaar gelede saam opgetree het weens die inperking, is hulle vuur en vlam om volgende jaar ʼn akoestiese album uit te reik.

Marcato is saam met Jerry Spangenberg en Altus Theart, die akteur wat bekend is om sy rol as Fafa Beltrame in die kykNET-sepie Getroud met rugby, ook die lede van die mannegroep EON.

“Ons is nog volstoom aan die gang en soos wat ons skedules dit toelaat, toer ons nog saam.”

Marcato het in Pretoria grootgeword, waar hy steeds woon. Ná skool het hy deur Damelin-kollege klankingenieurswese studeer.

“Musiek is in alle opsigte deel van my lewe en ek is in my element wanneer ek hierdie passie met mense kan deel, in watter vorm dit ook al mag wees. Musiek is een van die dinge wat mense bymekaar kan bring en dis vir my ʼn eer om deel te wees daarvan.”

“Ek onthou jou” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.