Luister: Pieter Marcato sing oor verhoudings in eerste enkelsnit

Pieter Marcato (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Pieter Marcato is deel van die musiekgroepe Marcato en EON, maar nou durf hy vir die eerste keer die musiekbedryf as ʼn solo-kunstenaar aan met sy enkelsnit “As jy vra”.

Pieter het aan Maroela Media vertel dat hy eintlik al drie jaar gelede ʼn solo-loopbaan wou begin het, maar dat hy te besig was om genoeg aandag daaraan te gee. Vanjaar het hy wel besluit om die daad by die woord te voeg.

“Ek wou net vir myself bewys dat ek dit kan doen. En ek het nooit tyd gekry om vir myself te skryf nie, want ek skryf vir Eon en Marcato ook, maar ek het net gesê: ‘2019 is die jaar wat jy ʼn solo-liedjie sal uitbring’. Ek beplan om volgende jaar nog meer liedjies uit te bring,” sê hy.

Pieter se eerste solo-liedjie “As jy vra” gaan oor verhoudings en hoe belangrik dit is om na die ander persoon in ʼn verhouding te luister.

“Ek het nie probeer om oor verhoudings te skryf nie, maar dit is maar die woorde wat na my toe gekom het. Die liedjie gaan oor verhoudings en om sterk te wees daarin.

“Hopelik kan iemand aanklank vind daarby. Dalk as iemand ʼn probleem in hul verhoudings het, kan dit hulle help om te besef hulle moet net na mekaar luister.”

Pieter sê dit is vir hom ʼn lekker, maar vreemde gevoel om nou alleen op die verhoog te staan, al beteken dit nie hierdie is die einde van EON of Marcato nie. Albei musiekgroepe gaan steeds voort.

“Ek is gewoond daaraan om in ʼn groep op te tree. Dit was ʼn groot aanpassing om alleen op die verhoog te wees. Gewoonlik kyk ek terug en dan is daar iemand op dromme en iemand op die baskitaar. Nou is ek stoksielalleen. Nou kan ek nie eens iemand anders blameer as daar iets fout gaan nie,” skerts hy.

Pieter sê hy is nie van plan om ʼn album uit te bring nie, omdat die musiekbedryf deesdae meer op enkelsnitte gefokus is. Hy sê hy sal wel moontlik ʼn paar eksemplare laat maak vir as daar mense is wat dit by sy vertonings wil koop.

Hy hoop ook om voor Januarie vanjaar die musiekvideo vir “As jy vra” bekend te stel. “As jy vra” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sally ·

Pratige mens met n mooi toekoms in die musiekbedryf. Doen so voort. Voorspoed Pieter.

Spatare ·

Op daai wit en swart foto lyk hy darem baie na Prime Cirlce se hoofsanger.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.