Luister: Posduif se debuutalbum laat die voete jeuk

Die ouens van Posduif kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Die musiekgroep Posduif het lank gewag en hard gewerk vir die dag wat hulle debuutalbum uitgereik kon word, en in Oktober vanjaar het Niks vergelyk uiteindelik die lig gesien.

Die groep, wat redelik nuut op die musiektoneel is, bestaan uit voorsanger James Boland, Nick Jordaan (ritmekitaarspeler en sanger), Amiel Gopal (baskitaarspeler), Brendan Campbell (vervaardiger en hoofkitaarspeler) en Nick McCreadie op die tromme.

“Die album bied ʼn kombinasie van liedjies wat jou sal laat saamsing of emosioneel sal maak. Dit is ’n versameling stories oor die lewe en elke liedjie het ’n dieper betekenis,” sê Boland.

Die album bevat 12 snitte, met onder meer die treffer “Laat val die water”, asook “Een vir my”, “Valskerms”, “Braai song”, “My gesin”, en die mees onlangse enkelsnituitreiking getiteld “Stellenbosch Somersaand” wat op dié vollengte album pryk.

“Die idee was om ’n album te skep wat jy van begin tot einde kan luister sonder om belangstelling te verloor. Daarom het elke liedjie ’n unieke klank en storie.”

“Stellenbosch Somersaand” is ʼn liedjie oor liefde met die eerste oogopslag en om kanse te waag.

“Daar is soveel goed in die lewe wat ʼn ou uitstel of te bang is om te doen,” vertel Boland in die Maroela Media‑ateljee oor die betekenis van die liedjie.

“Ons probeer musiek maak wat jy jou eie kan maak. As jy nog nie in Stellenbosch was nie, moet jy beslis ʼn plan maak om daar ʼn draai te gooi, maar jy hoef nie die dorpie te ken om aanklank by die liedjie te vind nie.”

Hierdie goedvoel-popsnit, met ʼn klank wat jou sal herinner aan die tagtigerjare, is geskryf deur Boland, Nick Jordaan en Nathan Woodman en is vervaardig deur Brendan Campbell en gemeng deur Hugo Ludik.

“Stellenbosch is ’n pragtige dorp, met goeie mense en mooi geboue. Ons wou ’n liedjie skryf wat hierdie skoonheid versinnebeeld deur ’n liefdesverhaal en bekende plekke by te voeg. Dit is een van ons gunstelingliedjies om uit te voer en is ’n unieke Afrikaanse snit met ’n nostalgiese gevoel.”

Posduif is in 2018 gestig en sommer vinnig deur Bok Radio benoem as groep van die jaar en die snit “Laat val die water” is vir liedjie van die jaar benoem.

“Ons is baie trots op die album en mense reageer baie goed daarop.”

Niks vergelyk en “Stellenbosch Somersaand” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud in die Maroela Media-ateljee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.