Luister: Posduif se jongste uitreiking ʼn ‘veelsydige, musikale reis’

Posduif se tweede album, Brandstigter, is vroeër vanjaar uitgereik. (Foto: Verskaf)

“ʼn Album is ʼn storie, en hierdie is nege hoofstukke wat jou op ʼn toer deur stukkies van ons lewe vat.”

Só sê James Boland, voorsanger van die musiekgroep Posduif, oor hulle tweede album, Brandstigter, wat vroeër vanjaar uitgereik is.

Die Kaapse groep is bekend vir liedjies soos “Laat val die water”, “Waar ek my lippe neerlê” en “Stellenbosch Somersaand”. Hulle het ook ʼn Suid-Afrikaanse musiektoekenning (Sama) vir hul eerste album, Niks vergelyk, ingeoes.

James vertel in Maroela Media se ateljee hulle het die afgelope paar maande hard aan die jongste album gewerk, en hulle wou luisteraars op ʼn musikale reis saam met hulle neem.

Die album bevat nege snitte en handel oor ʼn veelsydige samestelling van temas.

“Ons wou iets hê wat mense kan aansit en regdeur luister. Daar is party dele wat jy hard wil luister en saam sing. Dan is daar ander waar jy saam gaan wil huil, saam lief wil wees en saam kuier.”

ʼn Paar van Posduif se lede vorm ook deel van die bekende Engelse musiekgroep Rubber Duc. James vertel dat hoewel die groep wortels in Engelse musiek geskiet het, het Posduif ʼn nuwe deur na Afrikaanse musiek vir hulle oopgemaak.

“Vandag is elkeen van ons betrokke in die Afrikaanse musiekbedryf. Posduif is natuurlik 100% Afrikaans, my hele hart lê in die taal.”

Benewens hulle betrokkenheid by Posduif, is die res van die musiekgroep doenig as vervaardigers en skrywers vir ander Afrikaanse kunstenaars ook.

“Eers het ons niks geweet van die Afrikaanse musiekbedryf nie, en nou ervaar ons dit werklik en sien die passie daarin raak.”

  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met James Boland van Posduif.

Luister hier na “Brandstigter”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.