Luister: ‘Pure Coenie’ keer terug na sy wortels

Album_COVER_PureCoenie-f-002.jpgCoenie de Villiers, die immergewilde sanger en liedjieskrywer wat al dekades aanhangers en musiekliefhebbers vermaak met sy musiek, is terug met sy 21ste album getiteld Pure Coenie.

Met dié album keer Coenie terug na sy wortels as liedjieskrywer, na daardie eerlikheid van dekades gelede.

“Ek werk al vir 40 jaar met musiek in ateljees en deur die jare leer ʼn mens ʼn klomp slegte gewoontes aan. ʼn Mens werk met ander mense saam en jy vergeet wat jou wortels is. Ek het maar net gedink ek wil kyk of ek nog kan skryf, want ek weet toe ek 17 was, het ek gedink ek kon skryf, maar jy weet dit nie. Later dink jy jy kan, maar jy kan dan nie meer nie. Ek wou net kyk of ek nog kan sit en ʼn liedjie skryf wat totaal eerlik is en wat vir my werk.”

Coenie vertel dat hy graag saam met jonger kunstenaars in die bedryf werk, omdat hy glo hy kan baie by hulle leer. Met Pure Coenie is dit geen uitsondering nie en kunstenaars soos Francois van Coke, Joshua na die Reën, Brandon October en Leon Gropp maak ʼn draai op dié album.

“Die moeilike ding as jy baie lank werk is: Hoe vernuwe jy sonder om jouself prys te gee? So ek sit in die hoek en mense sê: ‘Jy werk met die kids’, dan sê ek ja, ek leer by hulle. Dan lag hulle en sê ek kan niks by hulle leer nie, maar ek leer ontsaglik baie.”

Coenie glo jonger kunstenaars met wie hy al in die verlede gewerk het soos Die Heuwels Fantasties, Karen Zoid en Hemelbesem is vreesloos en daarom werk hy graag saam met hulle. “Hulle stap net in en besluit hulle doen ʼn ding. Dit is vir my wonderlik en ek respekteer werklik hul talent. En hulle is my pelle – ek voel soms soos ʼn tweede pa vir van hulle.”

Hy het self 13 van die 14 snitte in die album se lirieke en melodieë gepen. Hy vertel hy het die snit “Liedjie vir Luca” vir sy groot vriend, die ontslape musikant Lucas Maree, se kleindogter geskryf.

“Ek en Lucas, wat nou in hiernamaals musiek maak, was baie naby aan mekaar. Hy was soos ʼn broer vir my. Ná sy dood het hy ʼn kleindogter gekry en haar naam is Luca. Sy is na haar oupa vernoem. Lucas was net een stuk hart, jy weet, en ʼn wonderlike mens en ek wéét hy sou die héle dag met haar gespeel het en ek weet hy sou vir haar wiegeliedjies geskryf het. Hy is nou nie meer hier nie, so ek het nou vir Luca ʼn liedjie geskryf namens Lucas. Ek het die lirieke so probeer inkleur asof dit deur hom geskryf is en ek hoop hy hou daarvan. Ek dink hy luister.”

Coenie vertel dat as skrywer en musikant daar geen kompromis is in hierdie album nie. “Ons het nie ʼn enkele kortpad gekies nie – en die album is geheel en al baby-baby vry!” skerts hy.

Coenie de Villier (Foto: Via)

“Ek wens ek kon baby-baby musiek maak! Ek respekteer dit, want ek kan dit glad nie doen nie. As ek dit gedoen het sou ek baie meer geld gemaak het uit my musiek, helaas. Mense wat luister na die album moenie ʼn braaivleisalbum verwag nie. Ek hoop dis as jy klaar vleis gebraai het, en iemand sê kom ons maak ʼn goeie bottel rooiwyn oop en ons sit die ligte af en ons luister.”

Die eerste liedjies in die album kyk na binne. “Ek is nou ouer en ek probeer om ónder die vel in te skryf,” sê Coenie. Dit verklaar lirieke soos “Julie, Kaap St. Francis”, “Die laaste maal”, “The Heart” en “Die kers”. Maar Coenie skryf ook uit sy persoonlike ervaring: “Die liedjie ‘Plaas’ is ʼn intieme kyk na die droogte in ons land en na boere wat elke dag bid vir reën. Ek kom uit ʼn familie van boere, en dis nie maklik nie,” sê hy.

Coenie kyk ook met deernis na die ouderdom. “In die lied “Vir oulaas” vertel ek die verhaal van ʼn oubaas in ʼn tehuis vir bejaardes wat – ondanks die eenselwigheid van elke dag – saans sy oorlede vrou se serpie oor die bedlamp gooi en die naald laat sak op sy ou viniel-plate.  Dan, as hy met sy skaduwee dans, vra hy sy vrou – wat jare lank reeds dood is – om weer met hom te dans….”

Rocker Francois van Coke sluit by Coenie aan vir ʼn volkome live en unplugged weergawe van die tydlose treffer “Hillbrow” deur Johannes Kerkorrel. “Ons het eenvoudig gaan sit in die ateljee en getel een-twee-drie-vier, en toe begin speel en sing. Wat jy hoor is wat ons op daardie oomblik opgeneem het. Hierdie snit is geskiedenis: Dis die Musiek-en-liriekbeweging en die stem van gatskop-Afrikaans wat gesamentlik hulde bring aan sekerlik die grootste gees van die Voëlvry-beweging.”

Coenie sê hy hoop dat ʼn wye spektrum Suid-Afrikaners sal aanklank vind by Pure Coenie. “Of jy jonger of ouer is, of pienk of pers of polka dots het, hoop ek die liriek het ʼn universele betekenis al is dit nie in jou eerste taal nie. Ek hoop dit is die beste Afrikaans wat ek kan skryf en ek hoop mense vind ook aanklank by die enkele Engelse snitte.”

Vicky Sampson, John Kani en die Odeon-strykkwartet verleen ook hul talente aan dié album. Pure Coenie is beskikbaar op sy webwerf en groot musiekhandelaars landswyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Valerie ·

In die tagtigs, het ek een middag in Johannesburh in dieselfde hysbak as Coenie beland. Dit was net ons twee. Wat ‘n netjiese, vriendelike man was hy nie! Hy’t my eerste gegroet en toe ek my my verloofde daardie aand vertel was hy kwaad omdat ek nie ‘n handtekening gevra het nie. Coenie is een van daai talentvolle juwele wat net so ‘n paar keer ‘n eeu verbykom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.