Luister: Ray Dylan sing steeds die land aan die brand

Ray Dylan. (Foto: Tarien Laubscher)

Ná sowat 25 jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf wéét Ray Dylan steeds wat sy aanhangers wil hoor.

Sy jongste enkelsnit, “By jou voete lê”, getuig hiervan met sowat 172 000 kykbeurte op YouTube sedert dit ʼn maand gelede uitgereik is. Ray vertel in die Maroela Media-ateljee dat die terugvoer op dié snit sy verwagtinge oortref het.

“Ek het in Amerika getoer en die ouens in Nashville het my geleer om te bly by dít wat werk,” sê Ray, wat al vir langer as twee dekades die dansbane aan die brand sing in Afrikaans met treffers soos “Jessica”, “Hokaai stop die lorrie” en “Cleopatra”.

“As jy weet jou poeding werk en die mense hou daarvan, bly daarby. Ek is bevoorreg dat ek tydens die inperking by die huis in my ateljee kon skryf en werk. Ek moes ʼn vriend wat toegelaat is om van die VSA af terug te kom Suid-Afrika toe by die lughawe gaan oplaai.

“Ons het gesels oor wat hy die meeste mis wanneer hy weg is, en hy het gesê: ‘Ray, al wat ek wil doen, is om by my vrou se voete te lê.’ Daar het die lig aangegaan vir die liedjie en ek het begin skryf.” Piet Farrell het saam met Ray die liedjie geskryf.

Hy ken sy formule en bly getrou daaraan. “Dit is ʼn gesamentlike ding. Deur jou vertonings en terugvoer van radiostasies en die media bly jy op die hoogte van waarvan jou luisteraars hou. Ek bly by die klank en die styl van die liedjies wat mense liefgehad het.”

Die musiekvideo is deur Wian van der Walt van Vonk Musiek behartig. Hulle wou ʼn regte paartjie gebruik om die hoofrolle in die video te vertolk. Dié paartjie het op die stel van die musiekvideo verloof geraak.

“Ons het in die Vaaldriehoek-omgewing op die rivier geskiet. Ons het ʼn regte outydse, Duitse motorfiets wat uit die oorlog kom, gebruik en daar was ʼn pragtige sonsondergang. Dit was ongelooflik.”

Ray verklap dat hy beplan om teen Kerstyd ʼn nuwe album met 12 snitte uit te bring. “Ons besluit nog oor die snitte wat die album sal haal, maar daar is reeds genoeg materiaal om die dansbane aan die brand te dans.”

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

“By jou voete lê” is beskikbaar op alle digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.