Luister: Refentse glo in ʼn generasie wat hoop bring

Refentse Morake (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Refentse, die sanger wat Suid-Afrikaners se harte al sedert 2016 steel met sy smeulende stem, het onlangs sy derde album uitgebring genaamd Liefdegenerasie. Die bekendste snit tot dusver in hierdie album is “Reisiger”, wat al telkemale op Maroela Media se Afrikaanse Top-20 verskyn het.

Refentse het aan Maroela Media gesê Liefdegenerasie, met liedjies wat hy self geskryf het, gaan oor ʼn generasie van mense wat besluit om die lig, eerder as die donker raak te sien. Hy wil dié mense uitdaag om vorentoe te gaan in die land.

“Ek het so ʼn behoefte in my hart gehad om uit te reik na ander mense in Suid-Afrika, wat ek wéét bestaan, wat moeg is vir al die geweld, misdaad en diskriminasie – al die seer. Mense wat net wil vorentoe beweeg as een nasie, en dít is die liefdegenerasie,” het hy gesê.

Die eerste snit, “Reisiger”, het vinnig baie bekend geword en die musiekvideo van hierdie lied het al amper 400 000 trefslae op YouTube gekry.

“’Reisiger’ is ʼn lied wat gaan oor onvoorwaardelike liefde. Ek het baie vriendinne gehad wat nie met die beste ouens uitgegaan het nie. Ek kon nooit verstaan hoe jy kan teruggaan na iemand wat jou seermaak nie. Maar ek het daarna besef dat liefde eintlik só ʼn sterk krag is.

“Ek het al gesien hoe kinders grootword sonder pa’s, met ma’s wat eintlik niks gehad het om mee na die kinders om te sien nie, maar dié ma’s het hulle grootgemaak met net daardie onvoorwaardelike liefde. So ‘Reisiger’ gaan daaroor, oor liefde sonder grense,” het hy gesê.

Refentse het vertel dat sy skryfproses aan ʼn liedjie soos “Reisiger” voortdurend verander en ʼn groot leerskool vir hom is. Partykeer sal dit hom tien minute neem om ʼn liedjie te skryf, maar ander kere neem dit hom tien weke.

“Soms wil ek die hele skouspelagtige idee van liedjieskryf hê, waar ek op ʼn dak sit op ʼn plaas en dan uitkyk op ʼn dam, en dan ʼn liedjie skryf. Maar ander kere word ek net wakker tweeuur in die môre, dan tik ek ʼn mooi liedjie op my selfoon.

“Die grootste ding is maar net om te leer om jou emosies oor te sit in woorde en om te lees en te luister hoe ander musikante musiek maak.”

Een van Refentse se gunstelingliedjies in Liefdegenerasie is “Doringkroon” wat gaan oor mense wat seer het en dat ʼn mens trots moet wees op jou geluk, maar ook op jou seer.

“Die lewe stap ʼn pad met jou. Partykeer gebeur lekker goed met jou, maar ander keer ook goed wat jou laat sleg voel. Maar al daardie goed maak jou wie jy is, dit skaaf jou. So ek praat oor daardie seer in hierdie liedjie as die doringkroon, ʼn kroon van hartseer en pyn; dieselfde kroon wat Jesus Christus vir ons gedra het, en ek dink ons moet trots wees op daai kroon.”

“My doel hier [op aarde] is om my vlees te bemeester en om hierdie menslike ondervinding te hê. En al die gevoelens, seer en geluk, is alles deel van dié ondervinding. En mense moet trots wees daarop, want dit is iets wat ons almal op aarde deel,” het Refentse gesê.

Refentse is landwyd op talle verhoë te sien en om uit te vind waar hy optree, hou sy Facebook-blad dop.

Liefdegenerasie is by musiekhandelaars en op digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ANNA ·

DAARSY REFENTSE…❗❗? ??
DANKIE VIR JOU POSSITIWITEIT EN DAT JY Ñ BRUGBOUER VAN VREDE IS VIR SA…!!
ONS WAARDEER JOU

Applous vir Refetse ·

Refentse, jy het ‘n wonderlike musiektalent, ‘n suiwer hart en jy dra ‘n fakkel van hoop vir ons land – ons geniet jou musiek so baie en ons waardeer jou karakter!

Lalie ·

Refentse ek was dood verbaas toe ek die eerste keer een van jou liedjied gehoor het. Pragtig hou so aan. Jy maak dat ons trots is om n Afrikaanse Suid Afrikaner te wees.

tollies ·

Jy sing mooi en dra n beeld hou so vol n mooi respekvolle persoonlikheid word
altyd ge respekteer.

Wynand Swart ·

Jys n mens 1000 en daars nog baie wat soos jy voel. Wit, Swart, Bruin jou en dit gaan van SA n plek 2000 maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.