Luister: Richard van der Westhuizen ná vyf jaar terug met storieliedjies


Richard van der Westhuizen (Foto: Maroela Media)

Richard van der Westhuizen (Foto: Maroela Media)

Die akteur, sanger en liedjieskrywer Richard van der Westhuizen het pas sy eerste album in vyf jaar vrygestel, en sê hoewel dié liedjies die hartsnare gaan roer en oor aktuele temas praat, wys dit ook sy ligter kant.

Die sanger se album, Yster en vuur, raak onder meer temas soos renosterstropery, die droogte en die liefde aan. Hy vertel egter dat daar glad nie “diep gedink” is oor dié temas nie. “Ek kry ʼn idee vir ʼn liedjie en gaan sit dan net en skryf. Ek maak net seker dat dit vir my mooi is. Die idees kom soos hulle kom, ʼn mens het nie eintlik beheer daaroor nie. Ek wou seker maak dat daar afwisseling is in die musiek en die temas,” het hy vertel.

Dit is veral alledaagse gebeurtenisse wat Richard inspireer om nuwe musiek neer te pen. Aanhangers brand egter om te weet hoekom dié album so lank geneem het om te verskyn. “Ek skryf op my beste wanneer ek op my bed lê en hopelik wakker bly,” het hy geskerts. “Maar eintlik was dit net nou die regte tyd. Ek het die regte musiek gehad en dit was weer tyd vir ʼn nuwe album.”

Hy sing onder meer ʼn duet met Anna Davel op die nuwe album, en vertel dié liedjie het veral ʼn unieke storie. “Ek was met vakansie in Tzaneen gewees. Ek het toe Magoebaskloof en Duiwelskloof besoek en aan die praat geraak met ʼn vrou wat daar woon. Sy vertel my toe daar is ʼn mis wat afkom in die kloof, en dit beïnvloed die mense wat daar woon. Daar is tot wilde honde wat daarlangs afkom.

“Ek skryf toe die eerste vers en stuur dit vir haar om te hoor of ek op die regte pad is, en toe skryf sy sommer ʼn tweede vers. Nou sing Anna Davel dit saam met my, omdat ʼn vrou die tweede vers geskryf het,” het hy bygevoeg.

Aanhangers kan ook uitsien na ligte sokkiemusiek. “Jy wil mense ook laat lag en pret hê. Daar is altyd ʼn silwer randjie aan ʼn wolk. Iets soos die liedjie “Doring op die dansvloer” spot met die manne wat net bietjie te dik geraak het vir hulle broeke, ʼn regte ou doring op die dansvloer. Daar is ook ander sulke liedjies.”

Hoewel sy trefferliedjies “Tussen Treine” en “Ballade vir ʼn enkeling” reeds 20 jaar gelede geskryf en opgeneem is, is dit vandag steeds treffers. Dié liedjies is ook weer opgeneem vir Yster en vuur, maar die sanger meen hy laat hom nie sommer onder druk plaas vir nog treffers nie.

“Ek het liedjies geskryf wat baie gewild geraak het, en dit het verseker dat ek ʼn standaard vir myself gestel het. Ek weet nie hoe om ʼn treffer te skryf nie, maar ek herinner myself gereeld om op daai selfde standaard te skryf. ʼn Mens moet tog nie dat vorige suksesse te veel inbraak maak op jou skrywery nie.”

Hy is ook vanjaar by die Innibos-fees vereer vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek. Dié toekenning is vir hom ʼn groot eer. “Dis ʼn geweldige voorreg. Maar wat groter was, is die 30 000 mense wat almal saam met my ‘Tussen treine’ gesing het. Dis ʼn voorreg om so ondersteun te word.”

Yster en vuur is beskikbaar in musiekwinkels landwyd en op iTunes.

Besoek sy Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.