Luister: Ricus Nel is ʼn ‘Ouskool Boerseun’


Ricus Nel (Foto: Maroela Media)

Ricus Nel (Foto: Maroela Media)

Hy is maar ʼn ‘gewone outjie’, sê die sanger Ricus Nel en is nederig dankbaar vir elke toekenning of handeklap wat hy kry. Hy het onlangs sy jongste album, Ouskool Boerseun, vrygestel.

“Dit is die eerste Afrikaanse album ná die Don Williams-album wat ek nou vrygestel het. Die album bevat agt oorspronklike Afrikaanse snitte en nog ʼn Don Williams-keurspel, net omdat die mense my vorige een so ondersteun het,” sê hy.

Dié titel vertel ook iets van homself, sê hy. “Die titel Ouskool Boerseun som my nogal goed op. Ek hou van die ouer, meer tradisionele soort klank. Ek dink dit kom ook oor in my musiek.”

Hy het ook onlangs sy jongste enkelsnit, “Hardekole”, vrygestel. “Ons het die liedjie klaar geskryf en opgeneem en daarna besluit die liedjie behoort bietjie anders aangepak te word. Ons het toe begin met die idee dat Bok [van Blerk] saam met my die liedjie moet sing en toe besluit ons Refentse en Adam Tas moet ook saam sing.”

Die sangers het die liedjie lewendig opgeneem vir die musiekvideo.

“Ons het die video hanteer asof daar geen kameras was nie, maar asof ons om die vuur sit en kuier,” voeg hy by.

Aanhangers kan uitsien na ‘outentieke’ musiek en sy gewilde ‘instrumentale liedjies’ op dié album. “Ek het agter gekom mense wil meer van my weet. Die liedjies gaan baie meer oor my, my grootwordjare en goed van my kleintyd.”

Ricus is vanjaar te sien by die Krone-konsert, sowel as Afrikaans is Groot.

Besoek sy Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.