[Luister] Rina Hugo se stem ná 31 albums nóg nie stil

Rina Hugo (Foto: Facebook)

Sy was oortuig haar legkaart is voltooi, vertel Rina Hugo tydens ʼn onderhoud – dié bekroonde sopraan was seker daarvan dat haar hoë note nooit weer teen die mure van ʼn ateljee sou weerklink nie. Maar toe word sy een oggend wakker en besluit dié pad is nóg nie klaar gestap nie, en nou spog sy met ʼn nuwe album ná ʼn stilswye van ses jaar.

Die sangeres het onlangs haar jongste album, die geestelike album Sy naam is Jesus, vrygestel. Dit is Hugo se vyfde geestelike album en haar 31ste album in geheel.

Sy sou darem nie heeltemal ophou sing het nie, keer sy vinnig – die afgelope ses jaar het sy steeds by kerke landwyd opgetree in konserte, ʼn vermenging van musiek en digkuns, wat sy self skryf. Sy en haar man, die pianis Johan van Rensburg, het dié konserte saam aangepak.

Die sangeres vertel sy het sowat drie jaar gelede doelbewus besluit om haar “gewone” konserte af te skaal, maar is nóú reg om te toer met dié album.

“Ná ʼn lang tyd wat ek nie in die ateljee was nie, was die opneem van dié album weer vir my baie inspirerend en lekker. Ek het dit só geniet om die musiek te sing, want die liedere se woorde inspireer en bemoedig my,” vertel sy.

Liedjies vanaf dié album kom almal uit konserte wat sy die afgelope paar jaar vir kerke saamgestel het.

“Hoewel ek dwarsdeur my loopbaan altyd betrokke was by geestelike musiek en baie keer in kerke opgetree het, het ek ongeveer drie jaar gelede besluit om my gewone konserte af te skaal en hoofsaaklik te fokus op die eredienste wat ek namens die Christelike Seemansorganisasie doen.

Rina Hugo en Johan van Rensburg

“Die dienste bestaan uit liedere en gedigte wat ek saam met my goeie vriendin Rien Joubert skryf en saamstel. Die naam daarvan is Sy naam is Jesus. Dit was vir my logies om die liedere wat ek in die program ingesluit het op dié album te sit. Daar is egter ook ʼn paar bekende liedere op en dan natuurlik nuwes wat ek oor ʼn lang tydperk bymekaar gemaak het.”

Groot sorg is met die produksie, gelei deur Tertius Human, gedoen. Die verwerkings, onder meer deur Johan van Rensburg, is klassiek gepoets. Gunstelingliedere uit dié konserte is onder meer “Hy’s die een”, “Hoe groot is U” en “Daar is geen ander naam”.

Engelse liedjies wat op die album verskyn sluit onder meer in “For those tears I died”, “I stand amazed” en “Mary did you know”.

Die album spog ook met twee duette waarvan “Agnus Dei” (Lam van God) een is. Sy sing dié liedjie saam met Jaconell Mouton van Noot vir Noot-faam.

“Jaconell is een van ons land se begaafste pianiste en musiekverwerkers. Sy is by baie mense bekend as leier van die musiekfabriek in die gewilde televisieprogram Noot vir Noot. Ek het haar eendag hoor sing in een van haar verhoogoptredes en dadelik besluit dit is die stem wat ek soek om saam met my die duet op die album te sing. Sy het ingewillig en sommer ook aangebied om die begeleidingsmusiek te verwerk en te vervaardig.”

Hugo sê sy is “padfiks” en gereed om landwyd met dié album te toer. “Ek ry al vir vier jaar baie ver met kerkoptredes oor die naweke. In die oggend slaan ek die klank op in een dorp, en in die aand slaan ek dit wéér op in ʼn ander dorp. My grimeertassie staan reg – ek gryp hom en vat die pad.”

Vir meer inligting oor Hugo of Sy naam is Jesus, besoek haar webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.