Luister: Roan Ash oor Proe’toria-fees, Nashville en die getroude lewe

Roan Ash kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Is daar ʼn beter manier om die lente te verwelkom as met heerlike kos en wyn, yskoue bier en jou gunsteling- Afrikaanse kunstenaars saam op een verhoog?

Proe’toria, die gewilde kos-en-vermaakfees, word binnekort vir die vierde keer gehou en organiseerders meen dié jaar se fees is groter en beter as ooit vantevore. Meer as 100 kos- en drankstalletjies, insluitend van wynplase en uitstallers van reg oor die land, sal by Proe’toria wees, terwyl ʼn paar bekendes in die kosmaakwêreld hul beste geheime op die verhoog gaan deel.

En asof die kos nog nie genoeg van ʼn trekpleister is nie, kan feesgangers ook uitsien na Dewald Wasserfall, Roan Ash, Demi Lee Moore, Corlea, Touch of Class, Joe Foster, Georgetown, Jemma, Deevah en Karlien van Jaarsveld wat almal deel uitmaak van die dag se vermaak.

“Ek het altyd so na die plakkate van Proe’toria gekyk en al die kunstenaars gesien wat daar optree en dan was ek so bitter dat ek nie daar is nie. Nou kan ek uiteindelik vanjaar ook deel daarvan wees,” skerts Roan Ash in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Ek kan nie wag nie. Dit is net ʼn dag met ongelooflike kunstenaars en goeie kos. Ek is baie opgewonde.”

Dit is geen verrassing dat Roan deel van Proe’toria is nie. Dié sanger met sy hoendervleis-mooi stem het die afgelope paar jaar een van die gunsteling-sangers op Suid-Afrikaanse verhoë geword. Maar dit het 14 jaar van sing in kroeë en by partytjies geneem om tot op dié punt te kom, en daarom aanvaar Roan dit beslis nie as vanselfsprekend nie.

“Ek voel nie asof ek ʼn groot naam in die bedryf is nie. Dit is net vir my great om ʼn vertoning te doen en dan is die teater vol. Dit beteken baie vir my. Ek is ongelooflik bevoorreg. Ek dink ek is net opgewonde om deel te kan wees van geleenthede soos die Proe’toria-fees en goeie kunstenaars soos Demi [Lee Moore] en die ander weer te kan sien.”

Roan Ash. (Foto: Zonika Mellet)

Groot naam of nie, Suid-Afrika se Roan Ash laat die res van die wêreld ook regop sit.

Roan het onlangs teruggekeer van Nashville, Tennessee, in die VSA waar hy deel was van die bekende Country Music Festival. Die wêreld se beste country-sangers word jaarliks op dié fees gesien en vanjaar was onder andere Billy Ray Cyrus, Carrie Underwood, Chrissy Metz, Florida Georgia Line, Hunter Hayes, Keith Urban en Little Big Town op die fees te sien.

En natuurlik, Roan Ash.

“Ons het net ʼn great tyd gehad. Die mooiste deel van daardie hele reis was toe ek speel en die skare staan voor ons en ewe skielik vlek hulle net hierdie Suid-Afrikaanse vlag oop. Dit was regtig ʼn hoendervleis-oomblik vir my. Ek sal beslis net weer terug gaan en dit weer doen.”

Met Roan se musiek wat soveel aanklank by ʼn wêreldwye gehoor vind, is ʼn internasionale loopbaan altyd ʼn opsie. “Ek was nou al paar keer [in die VSA] en mens dink altyd die gras is groener aan die ander kant. Maar toe ek daar was, na so twee weke, voel dit net asof Afrika in jou bloed is. En wanneer jy terugkom huis toe … daar is iets in die lug, daar is iets in die grond, daar is iets in die kultuur en die mense hier wat vir my baie werklik geraak het toe ek nie meer hier was nie. So ek sal beslis ʼn loopbaan oorsee wil aanpak, maar ek wil graag Suid-Afrika nog steeds huis noem.”

En deesdae beteken “huis” nie net vir Roan Suid-Afrika nie, maar ook sy geliefde Zonika. Roan en Zonika Mellet het kort na hul terugkeer uit die VSA op ʼn klein intieme troue in George in die Suid-Kaap ewige trou aan mekaar beloof.

Roan Ash en sy vrou, Zonika, op hul troudag. (Foto: Daniel Rademeyer)

“Ja, ek is nou ʼn getroude man. Al ʼn volle nege dae,” lag Roan.

“Dit is absoluut fantasties. Ons was net 30 mense op ons troue gewees. Dit was net so lekker en die weer was beautiful. Toe ons op ons troudag uitgestap kom, het ons vier walvisse en dolfyne voor ons gesien. Dit was net so ongelooflike dag. Ag, dit is net lekker wanneer jy die persoon ontmoet saam met wie jy die lewe kan aanpak.”

Die twee pasgetroudes moes weens Roan se druk skedule eers hul wittebrood uitstel, maar is vasbeslote om wel ʼn tydjie daarvoor af te knyp sodra dit moontlik is. Vir nou het Roan heeltemal te veel vertonings wat voorlê.

Behalwe vir Proe’toria sal hy ook vanjaar te sien wees in die Centurion-teater, Cafe Barcelona, die Atterbury-teater en Die Blou Hond in Pretoria. In Oktober is hy saam met Jo Black in die Sun Arena en later vanjaar ook in ʼn solo-vertoning in die Theatre of Marcellus by Emperors Palace.

En kan ons binnekort nog ʼn album verwag wat ons so gaan oorrompel soos Whiskey to my Soul? “Ek hoop gouer as later,” sê Roan. “Daar is baie nuwe materiaal en sodra ons almal se skedules net weer in lyn is, is ek seker ons sal weer die ateljee betree.”

Proe’toria vind op 31 Augustus in die Pretoria Nasionale Botaniese Tuin plaas. Die hekke sal om 09:00 oopmaak en die vermaak duur tot laat. Kaartjies is by Tixsa beskikbaar.

Wen

[WENNERS] Die gelukkige Maroela-lesers wat elkeen ʼn dubbelkaartjie wen na die naweek se Proe’toria-fees, is Wilma Appelgryn, Werner Smit, Lana McDonald en Jan Reesink. Baie geluk!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JK ·

Ons kaartjies al reg gesit! Kan nie wag nie!! Fantastiese plek om dit hou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.