Luister: Roan Ash se musiek soos ‘whisky vir die siel’

Roan Ash het die soort stem wat jou in jou spore laat vassteek wanneer jy dit hoor. Daar is ʼn hoendervleismooi opregtheid en strelende growwigheid in sy stem wat jou uitnooi om verlore te raak in sy sielvolle lirieke.

Dié jong musikant het as Roan van As in die Pretoriase Moot grootgeword en woon steeds in Pretoria. Vir langer as ʼn dekade het hy sy kitaar oral met hom saamgedra en waar hy ook al die geleentheid kon kry om te sing, vir mense gespeel.

“Hulle sê dit vat omtrent 10 jaar om sukses te behaal, maar ek is nou al sowat 14 jaar doenig met musiek. Ek het by al wat ʼn klein partytjie is, in kroeë en saam met vriende gespeel.”

Hy is ʼn musikant in murg en been, asook ʼn talentvolle liedjieskrywer, sanger en kitaarspeler. “Ek wou altyd graag ʼn balans handhaaf wat dié drie aspekte betref. Namate jou musiek groei, groei jou volgelinge ook,” sê Roan.

Roan is deel van Johan Vorster se befaamde Inhoud Huis-span en vertel hy het dié geleentheid gekry deur ʼn vriend, die musikant Appel. “Ek het ʼn YouTube-video gemaak met van my eerste liedjies. Hy het in die kantoor gesit en die video gekyk. Johan Vorster het toe net mooi verbygestap en gevra: “Appel, wie is hierdie ou?” Ons het ʼn vergadering gereël om mekaar te ontmoet en die res is, soos hulle sê, geskiedenis.”

Hy en die sanger Jo Black het vir ʼn paar jaar saam in ʼn groep gespeel. “Dis eintlik so snaaks. Jo het ʼn platekontrak by Inhoud Huis gekry en later het ek ook een gekry, maar Johan het nie eens geweet ons ken mekaar nie!”

Roan en sy goeie vriend, die musikant Dawie de Jager. (Foto: Facebook)

Roan en sy goeie vriend, die musikant Dawie de Jager. (Foto: Facebook)

Sy debuutalbum getiteld Whisky to my soul is in Februarie vanjaar uitgereik en al die snitte, net soos die eerste enkelsnit, “If I ever saw heaven”, is in Engels opgeneem.

“Ek voel daar moet altyd integriteit wees tussen jou hart en jou lippe. Partykeer kan ek myself net beter uitdruk in Engels. Ek skryf wel baie in Afrikaans en het al saam met mense soos Bouwer Bosch, Jo Black en Len Muller geskryf.”

Roan vertel dit was ʼn ongelooflike ervaring om saam met gesoute vervaardigers en musikante aan sy debuutalbum te werk. “Ricus Nel het sy talent aan die album verleen en Corlea Botha het die agtergrondstem vir “If I ever saw heaven” gedoen. Die meeste liedjies het ek en Appel saam geskryf en die vervaardiging is gedoen deur Danny Smoke. Dit was ʼn ongelooflike span talentvolle mense. Keer op keer gaan ʼn mens ateljee toe en sien hoe die mense werk en jy raak elke keer opnuut geïnspireer deur hulle.”

In sy tyd as professionele kunstenaar het hy reeds baie geleer. “Geduld is ʼn groot ding waaraan ʼn mens moet vasklou. Rome is nie in ʼn dag gebou nie. Die materiaal op my album is al sowat drie jaar gelede geskryf en dit sien nou eers die lig. Met vertonings vat dit ook ʼn rukkie vir die gehoor om jou te leer ken en vertrou dat jou musiek van goeie gehalte gaan wees.”

Roan sê hy het waardering vir ʼn wye verskeidenheid musiek en sonder Jack Savoretti, John Mayer, Ed Sheeran en Imagine Dragons uit as van die grootste invloede op sy outentieke musiekstyl. “Ek was al gelukkig genoeg om saam met baie kreatiewe musikante en liedjieskrywers in Suid-Afrika te werk. Dit sal vir my ʼn groot voorreg wees om ook nog saam met kunstenaars soos Matthew Mole, Vusi Mahlasela en Johnny Clegg musiek te maak,” deel hy sy hartewens.

Hy vertel dat hy inspirasie vir sy liedjies uit enige bron kan put. “Wanneer ek ’n liedjie skryf, speel ek gewoonlik eers ’n paar akkoorde op die kitaar terwyl ek die wysie neurie. Ek was juis in my sitkamer besig hiermee toe ek die eerste reël van “If I ever saw heaven” geskryf het. Ons het die snit gekies omdat dit die perfekte kombinasie is tussen ’n kunstenaarsiel en die kommersiële oor. Ek glo wanneer ʼn liedjie opreg is, sal mense hulle altyd daarmee kan vereenselwig.”

Whisky to my soul is by alle groot musiekhandelaars en op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.