Luister: Robbie oor huldeblyk aan rugbyheld Patrick Lambie

Robbie Wessels kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Robbie Wessels kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Robbie Wessels, die Afrikaanse sanger en akteur, se jongste enkelsnit, “Patrick Lambie”, is geskryf as huldeblyk aan dié uiters gewilde Springbok-rugbyspeler wat onlangs uitgetree het weens hoofbeserings.

Wessels vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media hy het genoop gevoel om dié huldeblyk te skryf toe hy die nuus van Lambie, een van sy gunstelingspelers, se uittrede hoor.

“Die oomblik toe ek dit hoor, het ek gedink dis hartseer, veral vir ʼn outjie van daardie ouderdom wat eintlik nog ʼn paar jaar oor het, om nou te móét ophou rugby speel. Hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek besef dit is tragies. Ek het nou maar aan myself gedink, sê nou iemand het vir my gesê ek móét nou môre ophou sing, sou dit vir my baie erg wees,” vertel Wessels.

“My hart het uitgegaan na hom. Ek het hom so een of twee keer al ontmoet en gedink: Dit is nou regtig ʼn nederige ou. Van die staanspoor af kon jy sien dit is nie iemand met ʼn air om hom nie – en toe het die woorde maar net begin kom. Toe ek weer kyk, het ek ʼn lied geskryf oor hom.”

Wessels vertel hy het deur die hele skryfproses met Lambie gesels en sy toestemming gekry om ʼn video van die rugbyster te maak. “Hy was dadelik opgewonde. Net voordat ek die liedjie uitgereik het, het ek dit vir hom aangestuur. Hy is toe nou mal daaroor en het laat weet die liedjie het aan sy hart gevat.”

Volgens Wessels ontvang sy aanhangers ook dié huldeblykliedjie goed. “Mense laat weet my gereeld dat hulle dit geniet,” sê hy.

Hy lag oor die verskil in reaksies oor “Patrick Lambie” teenoor sy vorige enkelsnit, “Bobjan”. “Die mense skryf vir my op Facebook ‘Patrick Lambie’ is nice, dis baie beter as die ‘Bobjan’-ding wat jy uitgebring het.”

Tog geniet hy dit om sulke prettige snitte te skryf. “Die idee vir ‘Bobjan’ het by my opgekom tydens ʼn fees. Ek en ʼn paar vriende het gesit en gesels en iemand het ʼn soortgelyke storie vertel. Ek het besluit om ʼn liedjie daaroor te skryf. Die maak van die video was die prettigste ding wat ek al in my lewe gedoen het,” lag hy.

Wessels vertel hy beplan om moontlik eers einde van die jaar ʼn vollengte-album uit te bring. “Ek het ʼn hele paar liedjies al geskryf wat ek so stadig maar seker begin opneem.”

“Patrick Lambie” is beskikbaar vir aankope op alle digitale platforms. “Bobjan” is ook op alle digitale platforms asook op die album In Afrikaans volume 2 beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pensioenaris ·

Mooi so Robbie, geniet jou sang van Leeu Loop, Bobjan tot Pat Lambie. Jy mag maar sing.

NET EK ·

Stem saam maar hoeveel games het hy nie die Sharks gekos nie. So uhm legend?? … Nope net n goeie speler.

NET EK ·

Ek stem …. nie n legend nie – kyk hoeveel games het hy die sharks gekos!!! n Baie goeie speler ja

Johan ·

Mooi gebaar Robbie, dis tragies as jongmense so gou ontneem word van iets wat hulle goed kon doen en waarvoor hulle lief is.
Persoonlik dink ek Bobjan is lekkerder.

Deloris ·

Robbie, jy het n hart van goud. Jy is n yster. Ons geniet jou songs so…. jy laat so baie mense lag. Keep going….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.