Luister: Rockgroep vier ‘20 jaar in die kraal’

Charlie Smidt van Beeskraal spog met die groep se splinternuwe album, '20 jaar in die kraal'. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Charlie Smidt van Beeskraal spog met die groep se splinternuwe album, ’20 jaar in die kraal’. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die Afrikaanse rockgroep Beeskraal is geen vreemdeling op die musiektoneel nie en ná ʼn kort verposing is die manne terug met ʼn splinternuwe album getiteld 20 jaar in die kraal.

Dié Pretoriase groep het die volk vasgevang in die laat 1990’s met sy unieke klank van tradisionele en rock-instrumente. Reeds toe al is hulle as revolusionêr bestempel en die liedjie “Plaasdorp” is op al wat partytjie of byeenkoms is, gespeel.

Die groep vier vanjaar 20 jaar in die musiekbedryf en die nuwe album is ʼn versameling van sy grootste treffers oor die jare. Dit sluit liedjies in soos “Strate van Pretoria”, “Redes”, “Duisend ure” en “Daisy”. Die groep blaas ook nuwe lewe in ʼn Anton Goosen-keurspel.

Charlie Smidt, voorsanger van die groep, vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat dit lekker is om terug te wees op die musiektoneel. “Ons het so twee of drie jaar ná die vorige album eers bietjie uitgespan. Vanjaar is ons 20-jaar-feesviering en ons wou daarmee saam ʼn album uitreik.”

Die snitte op die album is ʼn keur van die groep se gewildste treffers sedert die ontstaan van die groep. “Ons het van die ouer snitte weer opgeneem en vir sommige liedjies ʼn nuwe baadjie aangetrek.”

In 2002 was Beeskraal die enigste Afrikaanse groep wat op aanvraag van die regering by die Vryheidsdagviering by die Uniegebou opgetree het. Daarna het uitnodigings na Londen gevolg. In 2003 maak die groep naam saam met die ontslape musikant Mandoza by die World Food Hunger Concert, wen ʼn Kanna-toekenning en word benoem vir ʼn Huisgenoot Tempo- en Sama-toekenning.

In 2004 het die groep ʼn ATKV-eretoekenning gewen vir die bevordering van Afrikaanse rockmusiek en die twee opeenvolgende jare het lede Londen en België aan die brand getoer.

Teen 2008 het die groep tien jaar in die bedryf gevier deur ʼn album vry te stel en ʼn drieweekrits konserte, waarvan kaartjies alles uitverkoop was, saam met Dozi by Emperors Palace te doen. In 2010 is die manne benoem vir drie Rapport Vonk-toekennings en in 2011 het hulle weer weggestap met die Huisgenoot Tempo-toekenning vir beste rockgroep.

20 jaar in die kraal is beskikbaar by alle groot musiekhandelaars en sal eersdaags op alle digitale platforms beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elaine van Tonder ·

Hi Charles en span. Mooi so en hou aan met julle wonderlike musiek. Frans En Elaine

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.