Luister: Rooksein waag met ‘Genade nader’

Rooksein (Foto: Verskaf)

Rooksein, wat bestaan uit Megan Danner, Dian Maritz en Renier van der Westhuizen, se jongste enkelsnit, “Genade nader”, is pas uitgereik.

Dié jong musiekgroep het hulle debuut in die Afrikaanse musiekwêreld gemaak met liedjies soos “Kyk na my hart” en “Damlelielief”.

Hulle debuut-musiekvideo vir “Kyk na my hart” is reeds meer as 2,6 miljoen keer op YouTube gekyk, met “Damlelielief” se video wat sowat 650 000 kykbeurte het.

Van der Westhuizen en Maritz vertel in Maroela Media se ateljee dat “Genade nader” deur alledaagse realiteite en gebeurtenisse geïnspireer is.

“Mense is geneig om so vasgevang te word in die lewe of ʼn situasie dat hulle vergeet van die groter prentjie.

“Hierdie liedjie gaan juis oor ʼn paartjie wat vasgevang word in klein dingetjies en vergeet dat hulle eintlik net mekaar nodig het. Eers nadat hulle paadjies geskei het, het hul tussen die seer en trane besef dat genade eintlik nog altyd die antwoord is en was.”

Met “Genade nader” hoop die groep om luisteraars te verras en ʼn verskil te maak.

“Dit is iets anders vir ons en vir die mark. Ons glo en hoop dat die publiek ons boodskap sal verstaan, maar net so glo en hoop ons dat hulle lekker sal saam luister.”

Rooksein spog ook met ʼn splinternuwe musiekvideo vir “Genade nader”. Van der Westhuizen en Maritz vertel dat hulle met die konsep en kleredrag ʼn gevoel uit die tagtigs wou skep.

Dié video, wat in Johannesburg se sakesentrum geskiet is, is nie net ʼn waagstuk nie, maar ook ʼn tentoonstelling van die lede se musikale vernuf.

“Met al ons musiekvideo’s probeer ons iets doen wat nog nooit vantevore gedoen is nie. ʼn Mens kan dink dat so iets baie moeilik sal wees; so daarom het ons op iets besluit wat vir ons baie uniek en interessant was.

“Omdat Rooksein nog besig is om te groei en almal ons nog nie ken nie, het ons spesifiek daarop gefokus om vir kykers te wys wie ons is en ook om vir hulle ʼn voorsmakie van die dinamika in ons live shows te gee.”

“Genade nader” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Genade nader”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.