Luister: SA sanger wil naam maak oorsee

Anna Wolf. (Foto: Verskaf)

Anna Wolf. (Foto: Verskaf)

Anna Wolf, beter bekend as die talentvolle sangeres Tailor, het onlangs ʼn gedaanteverwisseling ondergaan om die nuwe klank en rigting wat haar musiek ingeslaan het, aan haar aanhangers voor te stel.

Die Pretoriase sangeres, wat deesdae in Londen in die Verenigde Koninkryk woon, vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media dit was in die ateljee in Londen waar sy dié nuwe klank ontdek het.

“Ek en Pete ‘Boxsta’ Martin, ʼn musiekvervaardiger, het in die ateljee gesit en musiek skryf en dit was net sóveel anders as die musiek wat ek as Tailor geskryf het. Die vonke het behoorlik gespat en ons het so ʼn lekker musikale verhouding. Ek het geweet ek sou ʼn nuwe naam moes kry om die nuwe klank te kan voorstel en die naam Anna het nog altyd by my gespook,” vertel sy.

“Ek het altyd gedink ek gaan eendag ʼn dogtertjie hê en haar Anna noem. Ek het ook altyd my miniatuur poedel, wat nou ongelukkig oorlede is, Anna genoem al was haar naam Dinky Toy. Ek het ook nog altyd ʼn fassinasie met wolwe gehad en het die twee gekombineer om die naam Anna Wolf te kry.”

Sy vertel as kind in Centurion het sy in ʼn ongebalanseerde huishouding grootgeword. “Ek het as kind huishoudelike geweld eerstehands beleef en ek dink nie daar was ʼn dag in my lewe wat verbygegaan het waar daar nie ʼn bakleiery in die huis was nie. Ek was altyd skaam om vir my vriende te vertel van my huishouding, want ek wou die perfekte familie gehad het. Net om later te besef elke huis het sy kruis.”

Anna Wolf, ook bekend as Tailor. (Foto: Verskaf)

Anna Wolf, ook bekend as Tailor. (Foto: Verskaf)

Haar jongste enkelsnit, “Believer”, spruit uit dié donker ervarings. “Die lied praat van huishoudelike geweld – om mense die stem te gee en te manifesteer dat hulle sterk genoeg is om uit die situasie te kom waarin hulle is.

“As ek nou na daardie tye terug kyk, besef ek dat ek dit nodig gehad om vorentoe te beweeg. Om te sê dat ek myself verlos van daardie verlede is ʼn positiewe ding – dit gaan maar oor vorentoe beweeg en om te weet jy is sterk genoeg om uit daardie spasie uit te beweeg en om net oukei te wees daarmee om kwesbaar te wees. As ʼn jong vrou vind ek dat ek baie hard is op myself, maar dat dit oukei is om daardie verlede te aanvaar en vir mense die stories te vertel.”

Sy vertel die skuif Londen toe was nie maklik nie. “Ek sien altyd Pretoria as ʼn klein dorpie en nou is ek in Londen. Dit was baie moeilik; om te verhuis is amper soos om ʼn dood te verwerk. Vir nou weet ek dat ek in Londen moet wees en vir my loopbaan was dit belangrik dat ek oorskuif Londen toe.”

Sy woon saam met haar man, die Suid-Afrikaanse akteur en vervaardiger Henk Pretorius. “Ons het nie verloof geraak nie, ons het in Las Vegas gaan trou,” verklap sy.

“Ek probeer nog daaraan gewoond raak om hom my man te noem. Ons het net besluit ons is glad nie konvensioneel en voorspelbaar nie en die ding wat ons die beste sal pas, is as ons net op ʼn vliegtuig klim en in Vegas gaan trou. Dis presies die gevoel wat jy kry as jy na flieks kyk en meer. Ek was soos ʼn kind. Daar was ligte en mense en karre en al die mense is so interessant!”

Believer is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Debbie ·

Sy is ongelooflik talent vol. Haar songs is so passievol en vat aan n MENS.BELIEVER is so n great video en song. Het haar show in Sandton gaan kyk. En WOW die mense het bow gegaan. Love dit

Debbie ·

Sy is ongelooflik talent vol. Haar songs is so passievol en jy kry hoendervleis

Leon ·

Ek betaal geen geld vir enige van haar musiek of vertonings nie–sy klink soos regte Tailor Swift wannabe

Wilna ·

Ek dink sy is baie talentvol en gaan nog BAIE bekendheid verwerf. Watch this space…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.