Luister saam met Riaan Cruywagen Vol 2

Luister saam met Riaan Cruywagen Vol 2Verlede jaar is die bekende Afrikaanse nuusleser Rian Cruywagen gevra om ‘n album van sy gunstelingmusiek saam te stel. Hierdie versameling was so gewild dat ‘n tweede volume pas uitgereik is.
Die eerste snit op die eerste CD is reeds besig om ‘n “klassieke” Afrikaanse treffer te word. Elvis Blue het verlede jaar ‘n skitterende album getiteld Afrikaans, vrygestel, en Rede om te glo was die eerste treffer vanaf daardie album. Steve Hofmeyr het Nadine se bekende Kaapse draai geskryf, maar sy rek een noot heeltemal te lank uit en dit bederf die hele liedjie. Cliff Richard en The Shadows se Forty days sal sekerlik op baie mense se lys van gunstelinge wees, en met Rian Cryuwagen is dit ook nie anders nie. Die volgende Afrikaanse snit is Corlea Botha se uitstekende weergawe van Valiant Swart se komposisie Sonvanger. Lionel Richie was die voorsanger van The Commodores voordat hy met ‘n uiters suksesvolle solo-loopbaan begin het, en Three times a lady as hul grootste treffer. Kaalvoet in die reën was een van verskeie treffers wat Jan de Wet geskryf het voordat hy hom op Christelike musiek toegespits het; dit was een van twee trffers wat hy vir Carike Keuzenkamp geskryf het. Die ander een was natuurlik Sarah de Jager. Waterloo was nie net ABBA se eerste nr. 1-treffer in Suid-Afrika nie; dit was die liedjie waarmee hulle die Eurovision-liedjiekompetisie gewen het. In die laat 1970’s het Anton Goosen byna al Sonja Herholdt se treffers geskryf; Hanoverstraat was een van haar grootste treffers. When bouzoukis played was ‘n groot treffer vir Vicky Leandros, maar Roberto Delgado se instrumentale weergawe is hier ingesluit. Patrizio Buanne het baie gewild in Suid-Afrika geword, en sy treffer, Il Mundo is by hierdie versameling ingesluit. Caruso het in 1990 ‘n treffer vir Luciano Pavarotti geword nadat die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Italië gehou is, maar Russell Watson se weergawe kom hier voor. Bert Kaempfert en James Last se musiek het by ‘n wye gehoor byval gevind, en hul opnames van Swinging safari en American patrol is onderskeidelik ingesluit. Tussen hierdie twee opnames is Nana Mouskouri se bekende treffer The white rose of Athens. Die laaste snit op die eerste CD is Hoezit my tjomma van Sorina; baie radiostasies het met reg geweier om dit te spel, omdat dit net ‘n rukkie lank snaaks was.
Nog ‘n legendariese Afrikaanse treffer kom eerste op die tweede CD voor, naamlik Sias Reinecke se Klein Karoo. Lara’s theme, uit die rolprent Doctor Zhivago, was in 1966 tegelyk ‘n treffer vir drie kunstenaars, naamlik MGM Singing strings, Ray Conniff Singers (wat die nr. 1-plek op Springbok Radio se Top 20 gehaal het) en Roger Williams, wie se weergawe hier ingesluit is. Anneli van Rooyen se Halleluja was ‘n groot treffer vir Ronell Erasmus, maar Anneli se oorspronklike weergawe was beter. Rina Hugo het al ‘n spul treffers gehad, en Môre lyk dit anders is die snit wat op hiedie versameling voorkom. Love is blue was in 1968 ‘n nr. 1-treffer op Springbok Radio se Top 20 vir paul Mauriat; dit was seker een van die heel grootste instrumentale treffers tot nog toe. Baie mense sien vandag neer op Billy Ray Cyrus (Miley se pa) se treffer Achy breaky heart, maar dit was baie gewild toe dit vrygestel is. Vanessa Williams het ‘n groot treffer met Save the best for last gehad, en dit is vandag nog net so mooi soos altyd. ABBA se tweede bydrae tot hierdie versameling is Dancing queen; hul enigste nr. 1-treffer in Amerika en dalk hul grootste treffer in Suid-Afrika. When I fall in love was ‘n baie groot treffer vir Nat King Cole, en is ook nog net so mooi soos altyd. Robbie Williams het selfs sy kritici stilgemaak toe hy die album Swing when you’re winning vrygestel het; hy het onder meer Sammy Davis Junior se treffer Mr. Bo Jangles by daardie album ingesluit, en dit kom ook op hierdie versameling voor. In 1974 het The Rubettes se enigste treffer in Suid-Afrika, Sugar baby love, die tweede plek op Springbok Radio se Top 20 gehaal; dis moeilik om in die hande te kry en daarom is dit goed om dit op hierdie versameling te sien. O mein Papa was ‘n groot treffer vir Eddie Calvert, en dit was ook die titel van die hoofstuk wat Riaan in sy outobiografie oor sy pa geskryf het. Die laaste snit op die tweede CD is Shirley Bassey se skitterende nr. 1-treffer Never never never.
Die eerste snit op die derde CD is een van daardie liedjies aarvoor ‘n mens nooit moeg sal word nie, naamlik Mungo Jerry se legendariese treffer In the summertime. The Staccatos se weergawe van Cry to me was ‘n jaar lank in en uit Spingbok Radio se Top 20; dit was drie maande lank op dié trefferslys, maar nadat dit in die rolprent Katrina voorgekom het, het dit opnuut toegetree en nog ses maande daarop gebly. Die wilgerboom was Herbie en Spence se eerste groot treffer, maar hoeveel mense weet dat Danie Pretorius, wat veral vir Ver in die ou Kalahari onthou word, dit geskryf het? Fred Woolridge se Pennieflutjie-kwêla was die kenwysie van Fanus Rautenbach se radioprogram Flink uit die vere, en dis goed dat Riaan dit ingesluit het. Sias Reinecke se tweede bydrae is Sproetjies, waarvoor sy eertydse sangmaat, Gert van Tonder, die Afrikaanse woorde geskryf het. Die liefdestema uit die rolprent St. Elmo’s fire is deur David Foster gekomponeer en hy het ‘n treffer daarmee gehad. Tessa Ziegler se weergawe is egter hier ingesluit.Joan Sutherland se Nonnekoor uit Casanova is die eerste werklik klassieke snit op die hele versameling. Cavatina kom uit die rolprent The deer hunter, en Göran Söllscher se opname kom hier voor. Hans Zimmer en Lisa Gerraed se Now we are free is ‘n hoogtepunt op die derde CD. Die Nederlandse violis en dirigent André Rieu het baie gedoen om klassieke musiek meer toeganklik te maak, en sy weergawe van Wien bleibt Wien is hier ingesluit. As jy dit hoor, sal jy dit dadelik erken. Liebestraum van Jorge Bloet is net so bekend; dit is geskryf deur die Hongaarse komponis Franz Lizst, en die musiek kom ook in Nancy Ames se 1966-treffer Cry softly voor. Luciano Pavarotti het ‘n groot treffer met O sole mio gehad; hy en Bryan Adams het dit ook later jare sam opgeneem. Die laaste snit op die versameling is Gabriel’s oboe van Ennio Morricone uit die rolprent The Mission.
Riaan het weer eens ‘n album met ‘n wye verskeidenheid saamgestel, en daar sal beslis iets vir elke musieksmaak wees, of jy nou van platvloerse- of klassieke musiek hou. Riaan wonder of hy ‘n derde versameling moet saamstel, maar daar is geen twyfel dat hy maar werk daarvan kan begin maak nie!

https://www.youtube.com/watch?v=POiYdsMfiEI

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.