Luister saam met Riaan Cruywagen

riaan cruywagen CD‘n Televisie-advertensie van die CD volg onderaan die berig. Dit gebeur nie gereeld dat ‘n bekende persoonlikheid gevra word om ‘n versameling van sy gunstelingtreffers saam te stel nie.

Riaan Cruywagen is egter nie sommer net enigiemand nie; hy is sedert 1976, toe Suid-Afrika televisie gekry het, die “gesig van Afrikaanse nuus”, en nadat hy by die SAUK afgetree het, het hy ook een van die aanbieders van die ontbytprogram Dagbreek op kykNet geword. Daarby was hy ook die stem van die bekende Haas Das, en van Koning Rosekrans in die kinderreeks Liewe Heksie.

Indien elke snit op die versameling van drie CD’s bespreek sou word, sou dit baie plek  in beslag neem, en daarom  gaan ek net op ‘n aantal hoogtepunte konsentreer. Die eerste CD skop af met I do, I do, I do, I do, I do, een van agt treffers van ABBA wat die eerste plek op Springbok Radio se Top 20 gehaal het. Nog drie voormalige nr. 1-treffers is volgende, naamlik Lucille van Kenny Rogers, Mississippi van Pussycat en een van die liedjies wat Riaan as ‘n groot gunsteling uitgesonder het, Lady in red van Chris de Burgh.  Die eerste Afrikaanse snit op die versameling is Coenie de Villiers se eerste groot treffer, Karoonag.  Rina Hugo het ‘n groot treffer met Drakensberge van verlange gehad, en min mense weet seker, of sal glo, dat Leon Schuster die Afrikaanse woorde geskryf het. Anneli van Rooyen se groot deurbraak het gekom toe sy Ruben Lennox se komposisie Sewe sakke sout opgeneem het; sy het in 1982 die vierde plek op Springbok Radio se Top 20 daarmee gehaal. Dis goed dat Riaan ook ‘n ouerige Afrikaanse snit ingesluit het. Gert Potgieter was ‘n liriese tenoor wat sukses met ligte- en klassieke musiek behaal het, en op Baba-boogie het hy gewys dat hy ook ‘n sin vir humor gehad het. Hy is in 1977 in die ouderdom van 47 jaar in ‘n motorongeluk oorlede.

Die volgende twee Afrikaanse snitte het elke die derde plek op Springbok Radio se Top 20 gehaal.  Groep Twee hou die rekord vir die hoogste toetrede tot die Top 20 deur ‘n Afrikaanse liedjie; Die oukraalliedjie het op 10 Maart 1967 in die dertiende plek toegetree en vyftien weke op die trefferslys gebly. Kinders van die wind het die geskiedenis van Afrikaanse musiek verander. Koos du Plessis het dit geskryf, en Laurika Rauch het op 14 September 1979 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree. Dit is ook die wenner van die tydlose treffer-kategorie in Maroela Media se Grootste Afrikaanse liedjie-veldtog. Lance James se eerste groot Afrikaanse treffer was Dankie, en dis goed dat dit hier ingesluit is. In 1990 het Francois en Elizabeth Fourie ‘n baie groot treffer met Wil jy dans Carina gehad, tot so ‘n mate dat hul destydse platemaatskappy die album waarop dit oorspronklik verskyn het, heruitgereik het en dit die titelsnit gemaak het.  Dit is goed dat nóg ‘n ou Afrikaanse treffer ingesluit is. Danie Pretorius het bekendheid verwerf deurdat hy Ver in die ou Kalahari en Die wilgerboom geskryf het, maar Sjeef by die koffie, wat hy in die vroeë 1960’s opgeneem het, was ook ‘n groot treffer.  Stille rivierstroom was ‘n  treffer vir Nick Taylor, en is in die nuwe FAK-sangbundel opgeneem.  Die egpaar Rina Hugo en Johan van Rensburg sorg vir die laaste twee snitte op die eerste CD; Rina se opname van die orkesleier Hendrik Susan se komposisie Huisie in die berge is hier ingesluit, asook die titelsnit van Johan se album Die tekkie-rêg.

Engelbert Humperdinck het verskeie groot treffers gehad, onder meer The last waltz, wat in 1967 ‘n nr. 1-treffer in Suid-Afrika was en hier ingesluit is. Roy Orbison het oorspronklik ‘n treffer met Pretty woman gehad, maar om en of ander rede is Die Campbells se opname ingesluit.  Drie Afrikaanse snitte is volgende; Heinz Winckler se Ek kan weer in liefde glo, Chris Chameleon se toonsetting van die Ingrid Jonker-gedig Die onverkrygbare en Op Blouberg se strand van Laurika Rauch.  Dit is ‘n skande dat The Seekers se musiek nie so gereeld gespeel word nie (dit hang seker af na watter radiostasies jy luister), en daarom is hul groot treffer The carnival is over ‘n welkome insluiting. Ben E. Madison het Springbok Radio se Top 20 in 1968 met Groen koringlande gehaal, en dit is eintlik snaaks dat dit so moeilik is om in die hande te kry. Daarom is dit goed dat dit op hiedie versameling voorkom.  Andy Williams het in 1974 die nr. 1-posisie met Neil Sedaka se komposisie Solitaire gehaal; hierdie snit is ook deur The Carpenters opgeneem, maar dit was Andy Williams wat die treffer daarmee gehad het.  André Schwartz het onlangs sy eerste Afrikaanse album in jare opgeneem, maar Riaan het die titelsnit van sy eerste Afrikaanse album Lief vir alles hier ingesluit. Ek wil jou ken is Anneli van Rooyen se tweede bydrae tot hierdie versameling; dit was die temaliedjie van die televisiereeks Skoppensboer.  Sing seeman sing is seker een van Gé Korsten se grootste treffers, en veral ouer luisteraars sal bly wees om te sien dat Memories are made of this van Dean Martin, die laaste snit op die tweede CD, op dié versameling voorkom.

Billy Ray Cyrus het ‘n baie groot treffer met Achy breaky heart gehad, en dit is in die vroë 1990’s seker op elke radiostasie gespeel. Nicolene is die tweede bydrae van Gé Korsten tot dié versameling. As daar een voormalige nr. 1-treffer is wat sonder twyfel die toets van die tyd deurstaan het, is dit In the summertime van Mungo Jerry, wat vandag nog gewild is by oud en jonk. Nog ‘n snit wat Riaan as ‘n groot gunsteling uitgsonder het, is Don’t let the stars get in your eyes, een van Perry Como se grootste treffers. Pampoen van Steve Hofmeyr was die wenner van die populêre kategorie van die Grootste Afrikaanse Liedjie-veldtog. Omdat Riaan die stem van Haas Das was, is dit seker heel logies dat Haas Das se nuuskas van Groep Twee hier moes voorkom, en hoekom nie? Twee sangpare, wat omtrent twintig jaar uitmekaar op die plaaslike musiektoneel was en wie se musiek hier ingesluit is, is Min Shaw en Lance James, met die Danie Bosman-komposisie Boereseun, en Gé Korsten en Rina Hugo met hul groot treffer Ek mis jou elke dag ‘n bietjie meer. Die laaste snit op die album is die bekende trekklavierspeler en komponis Nico Carstens se Klokkiewals.

Dit is vir ware musiekliefhebbers altyd interessant om te weet na watter musiek bekendes graag luister, en ‘n mens moet erken dat Riaan ‘n wye musieksmaak het met iets wat by enigiemand byval sal vind. Dis goed dat hy ‘n paar moeilik verkrygbare snitte vir hierdie versameling gekies het, en dit alleen maak hierdie versameling die moeite werd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.