Luister: Saarkie se Adèle rock nou ook op haar eie

Adèle Fouché. (Foto: Mia Slabbert/C3 Productions)

“Die bome van die Knysnabos verteenwoordig vir my asem, bewustheid en eenheid. Onder die grond is al die bome met mekaar verbind en kommunikeer met mekaar. As een boom swaar kry, kry al die bome eintlik swaar. Dit weerspieël die idee dat alles eintlik maar met mekaar verbind is.”

So sê die rasperstem rock-sangeres Adèle Fouché in Maroela Media se ateljee oor haar jongste enkelsnit getiteld “Outeniqua”, ʼn huldeblyk aan die wonders van die Knysnabos.

Sy het die spesifieke dag wat sy die liedjie geskryf het, ʼn artikel gelees oor die Knysnabos en dat daar net een olifant daar oor is. Dit het die idee vir die lirieke by haar laat vlamvat, sê sy.

“Dit was vir my skokkend en ek het begin wonder wat daar gebeur het en hoe dit kon gebeur. My pa het my altyd vakansies na daai omgewing geneem, en dit is vir my verskriklik mooi daar. ʼn Mens voel die vrede in die bome en hoe tydloos die lewe kan voel en wees.

“Die Knysnawoud het tipe van hemel-gevoel en ek het net gehoop hulle kyk ook na die woud. Toe besluit ek om ʼn liedjie daaroor te skryf.”

Hoewel Saarkie – die rockgroep waarvoor sy al vir 16 jaar lank die voorsanger en kitaarspeler is – steeds volstoom voortgaan, pak sy ook deesdae meer gereeld soloprojekte aan en beplan sy ook om meer gereeld solovertonings te lewer.

“Ek raak nou ouer, so ek kan nie meer net altyd in ʼn rock band speel nie. My nek raak seer en so aan, so dis tyd om bietjie my voet op ʼn ander klip ook te sit,” skerts Adèle.

Dalene Matthee se Afrikaanse romans, soos Kringe in ʼn bos, met stories van boskappers en olifante, het ook van die lirieke van die liedjie geïnspireer.

Adèle sing ook nou gereeld op haar eie stoom. (Foto: Deon Coetzee Photography)

Kringe in ʼn bos herinner ons dat as ons heeltyd dieselfde foute maak, die uitkoms altyd ook dieselfde gaan wees.”

“Elkeen van ons het in ons binneste amper iets soos ʼn natuurlike oerwoud wat saam met ons gebore word. Ons rig wel oor tyd die oerwoud skade aan deur sekere dinge toe te laat wat vernietigend is. Ons troos onsself met kitsoplossings wat ʼn mens dadelik laat beter voel, ongeag die skade wat dit op die langtermyn aanrig.

“Ons kry nie meer ons rus in die natuur deur oomblikke van stilte in ʼn somerbries te geniet of natuurtonele om ons te waardeer nie. Sonder hierdie natuurlike rus en vrede kan alles soms ineenstort.

“Deur al die jare in die musiekbedryf is dit amper wat met my gebeur het. Ek het agtergekom dat ek nie meer natuurlike rus en vrede in my binneste het nie omdat ek ook kitsoplossings gesoek het. So het ek my eie oerwoud afgekap en vernietig,” verduidelik Adèle.

“Outeniqua” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo vir die liedjie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.