Luister: Saarkie spog met nuwe lid, album

Alouise, Adèle en Lila van Saarkie. (Foto: Facebook/Saarkie)

Die rockgroep Saarkie ruk en rol al 15 jaar lank in Afrikaans én Engels en vanjaar spog die groep met ʼn splinternuwe vollengte-album én lid.

Alouise Peens, oftewel Ella soos haar nuwe orkesmaats haar noem, het onlangs haar plek ingeneem as baskitaarspeler en sanger vir die groep. Adèle Fouché is die kitaarspeler en voorsanger en Lila Botha is die tromspeler.

Peens is van Bethlehem in die Vrystaat afkomstig en speel al klavier vandat sy drie jaar oud was. Sy werk ook reeds amptelik tien jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf as baskitaarspeler in Bok van Blerk se orkes. Sy speel ook nog af en toe saam met die groep Onbeskaamd en het ook ʼn Ghoema-toekenning vir haar aandeel in die Bella & Buster-produksies ingeoes.

“Dit is ʼn groot voorreg om saam met Adèle en Lila musiek te maak en dit voel asof ek my musiek vryheid gee wanneer ek dit doen. Ek het verlief geraak op hulle klank toe ek eers agter die baskitaar inspring om die liedjies te leer en sien uit na die toekoms.”

“Waar lê jou hart” is die derde uitreiking vanaf Saarkie se nuwe album, ook getiteld Waar lê jou hart. Die liedjie, met sy Afrika-ritme, is deur Adèle geskryf en volgens haar is dit ʼn “uitnodiging vir iemand om saam met jou weg te gaan op ʼn avontuur”.

“Ons hou van die liedjie, want dit het ʼn opwindende ritme en dit maak dat jy in die motor wil klim en na die sonsondergang toe ry. Ek wou ook iets skryf waarop mense lekker kan dans.”

In die musiekvideo, wat deur Unbreakable Media se Marlie van Oudtshoorn vervaardig is, vat Saarkie die pad in ʼn 1969- BMW 1602 Bauer LHD Cabriolet. Dit is in die Rietvlei-natuurreservaat geskiet.

“Die idee vir die video is geïnspireer deur die liedjie en die boodskap is dat wanneer jy iemand vra om saam met jou op ʼn pretrit te gaan, wil jy weet waar daardie persoon se hart lê.”

Die album, ook getiteld Waar lê jou hart, bevat 12 snitte met uiteenlopende temas.

“Ons het weens Covid-19 en die uitwerking daarvan ʼn nuwe waardering vir die lewe gekry. Daarom het ons geskryf oor plekke, diere, liefde en mense wat vir ons betekenis dra. Dis iets wat jy in die motor kan luister of rondom ʼn kampvuur saam met die mense vir wie jy lief is.”

Alouise, Adèle en Lila van Saarkie. (Foto: Facebook/Saarkie)

Waar lê jou hart is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister bo-aan die berig na die volledige ateljeeonderhoud.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Waar lê jou hart”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hardekwas ·

Ek ken rock musiek en hierdie is definitief nie rock musiek nie. Klink meer soos country.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.