Luister: Sanger voltooi lied tien jaar ná pa se dood

Kirsten Richard (Foto: Verskaf)

Kirsten Richard het onlangs sy tweede enkelsnit genaamd “Ons is groot” vrygestel wat sy emosies die afgelope tien jaar vasvang vandat sy pa in ʼn motorfietsongeluk oorlede is.

Richard wou ʼn liedjie skryf wat ʼn boodskap oordra en iets vir ander mense sal beteken. Hy het dus sy eie ervaring van sy pa wat oorlede is as verwysingsraamwerk gebruik.

“My pa is oorlede toe ek tien jaar oud was. Ek, my ma en my klein boetie was onderweg huis toe in ons Land Rover agter my pa, wat op sy motorfiets gery het, op ʼn Sondagnamiddag. Dit was so net voor donker. Ons was nie ver van die huis af nie, toe ʼn dronkbestuurder aan die verkeerde kant van die pad teen my pa bots.”

Richardson sê hy dink die skryfproses van “Ons is groot” het reeds daardie dag begin met al die emosies wat hy as tienjarige seun gevoel het.

“Die idee wat ek wou vasvang, is ʼn gesprek tussen iemand wat reeds oorlede is en iemand wat steeds lewe, asook die emosies wat hulle sou ervaar noudat hulle oorlede is en terugkyk na hul lewe. Ek is bly ek kon al die emosies van tien jaar in ʼn liedjie en in musiek omskakel.

“Vir my persoonlik gaan dit oor hoe ek dink my pa dalk met my sou wou praat ná hy oorlede is,” sê hy.

Hy sê een ding het vir hom uitgestaan oor die liedjie en dit is dat mense, veral kinders, baie tyd afstaan om te praat oor wanneer hulle groot is.

“Groot wéés is nie wat belangrik is nie, dit is groot wórd wat belangrik is. Dit gaan oor alles wat tussenin gebeur. Elke oomblik is so kosbaar en die belangrikste is dat ons alles beleef, in die teenwoordige tyd,” sê hy.

Aangesien dié enkelsnit tydens die landwye afsonderingstyd vrygestel is, is die musiekvideo vir die liedjie in Richard se huis geneem.

“Dit was vir my belangrik om die boodskap wat ek probeer oordra met die liedjie in die musiekvideo vas te vang. Dit beeld ʼn gesprek tussen iemand wat lewe en iemand wat oorlede is uit.”

Richard beskryf sy musiekgenre as alternatiewe Afrikaanse rock, maar met ʼn suiwer stem, eerder as ʼn harde rasperstem.

Vir Richard is dit die grootste kompliment as iemand vir hom sê sy liedjie het iets vir hulle beteken of iets laat voel, en hy hoop dat “Ons is groot” dit ook kan regkry. “Die idee dat iets wat deel van my is wel iemand anders kan help, is vir my wonderlik. Dis hoekom ek so verlief is op skryf en musiek,” sê hy.

“Ons is groot” is op alle digitale platforms beskikbaar. Volg Kirsten Richard hier op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.