Luister: Snotkop maak ‘marakas’ met nuwe musiek

Snotkop kuier by Maroela Media. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Snotkop ryg ná dekades, as een van die land se gewildste Afrikaanse sangers, steeds die een treffer na die ander uit.

Sy splinternuwe Afrikaanse uitreiking, “Marakas”, is op al wat ʼn radiostasie te hoor en pryk reeds op treffersparades soos die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

“Ek het gedink dis tyd vir nog ʼn full on Snotkop-tune – stout en mal en lekker. ʼn Partytjie-liedjie wat jou gaan laat dans, en die lirieke is lekker tong-in-die-kies.”

Sy hartsprojek, die fliek Skrik vir niks, wat vroeër vanjaar op stromingsplatforms uitgereik is, gaan binnekort die lig op verskeie ander platforms sien.

“Ek het ʼn baie sagte plek vir die jeug en mense met groot drome; mense in die geheel wat dink hulle kan nie groot goed bereik nie, soos ek gedink het toe ek jonk was.”

Die terugvoer oor die fliek is oorweldigend, sê Snotkop. “Jonk en oud het laat weet die fliek het hulle geïnspireer. Dit was ʼn passieprojek van my en ek is baie bly ek het dit aangepak.”

Snotkop staan ook binnekort saam met 21 ander gesogte Afrikaanse kunstenaars op die Krone by Loftus-verhoog. Dié massiewe saamsingjol vind dié naweek in Pretoria plaas, en sowat 30 000 gehoorlede word na raming by dié konsert verwag.

“Krone is een van die uniekste konsepte en konserte in die land. Dit is een van die lekkerste vertonings om te doen nie, en iemand wat nog nie daar was nie, loop groot dinge mis. As jy nog nie daar was nie, moet jy ʼn plan maak.”

Hy sê die gehoor is die belangrikste element van die Krone-konsert. “Ons sing nie net ons eie treffers nie, ons sing liedjies van onder meer die Beach Boys asook liedjies uit die tagtigs en negentigs.

“Ons het klein begin tien jaar gelede, en nou sit ons met ʼn konsert op Loftus, waar ons 30 000 mense verwag, en die verhoog weeg glo sowat agt ton. Dit is insane en dit is ongelooflik om te dink ek gaan deel wees van so iets. Ek moet myself in die oggende knyp om te dink ek gaan daar optree.”

“Marakas” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kaartjies na die Krone by Loftus-konsert is hier beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Snotkop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.