Luister: Snotkop sê ‘wees trots op jouself’ in nuwe liedjie

Snotkop (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Snotkop het pas sy nuutste enkelsnit en musiekvideo, “Pens en pootjies”, uitgebring en daarin wil hy vir mense sê om hulself te aanvaar nes hulle is.

Snotkop het die afgelope paar maande sy aanhangers bederf met partytjieliedjies soos “Souserig” en “Boerepompie” en hy beloof dat “Pens en pootjies” nét so ʼn lekker partytjieliedjie sal wees.

“‘Pens en Pootjies’ is definitief ʼn somertreffer. Dit is ʼn liedjie wat tong in die kies is, en net lekker pret is. Maar dit het ook baie inspirasie – dit gaan oor dat jy jou pens en pootjies moet bring, dat jy cool is net soos wat jy is.

“Moenie jou bekommer oor daai ekstra vetjies nie, veral nou in die somer en almal op ʼn dieet is. Dit gaan nie net oor hoe jy lyk nie, maar ook oor hoe jy voel en jou selfbeeld. Ons is almal verskillend en ons almal lyk anders, wees trots op jouself en wees gelukkig met jouself,” sê Snotkop.

Snotkop sê dié saak lê hom na aan die hart omdat hy sien hoe so baie mense nie goed genoeg oor hulself voel nie.

“Jy moet lief wees vir jouself. Solank jy gesond is, moet jy ophou om jouself te boelie. Ons praat so baie oor mense wat ander mense boelie, maar dan boelie ons eintlik onsself. Daardie praat van ‘ek is te dik, of ek is nie mooi genoeg nie, ek is nie goed genoeg nie’ – dis nonsens daardie, jy is pragtig! Jy is perfek geskape!”

Snotkop het ʼn besige jaar agter die rug, en hoewel hy volgende jaar sy 20ste jaar in die musiekbedryf vier, sê hy hy voel steeds of hy homself moet knyp dat dit so goed gaan met hom.

“Dit was ’n wilde jaar. Wonderlike goed het gebeur, goed wat ek glad nie eens gedink het gaan so groot wees nie. My album Sous het ʼn SAMA-toekenning en ʼn klomp ander toekennings gewen, en het goue status bereik. ‘Boerepompie’ het ook al goue status bereik.”

Die musiekvideo vir “Pens en pootjies” is vandag bekendgestel en dit beloof om jou te laat skaterlag. Snotkop gebruik ook ʼn instrument genaamd ʼn kazoo in die musiekvideo, wat daarin towerkragte het.

“Die kazoo is ʼn musiekinstrument wat enigeen kan speel. Die kazoo het towerkragte, so as jy sukkel met die dames, kry vir jou ʼn kazoo en kyk die video om te sien wat ek bedoel,” sê hy.

“Pens en pootjies” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.