Luister: Spoegwolf deel ‘gelukkige herinneringe’ met nuwe album

Spoegwolf stel Vrydag hul agtste vollengte album, getiteld Silwer, bekend (Foto: Verskaf)

Spoegwolf, die onafhanklike alternatiewe rockgroep uit die wynlande van die Wes-Kaap, stel Vrydag hul agtste vollengte album, getiteld Silwer, bekend.

Met berge, branders en die maan as inspirasie, bevat die album ’n mengsel van epiese en huishoudelike temas.

Volgens die lede van die groep deel hulle op hierdie negesnit-album baie van hul goeie herinneringe in die vorm van musiek en liriek. Hulle beskryf dit as “harde, dankbare” musiek. Dit in vergelyking met hul vorige albums wat hulle as meer “harde, negatiewe” albums beskou.

“Elke album vat ’n tyd in ons lewe saam. Van die vorige albums het donker, pynvolle tye weerspieël, wat nou in iets moois omskep is. Ons is nou op ’n plek waar ons ná die seerkry sterker anderkant uitgekom het,” vertel die groep.

Die groep is bekend daarvoor om unieke elemente in hul albums te inkorporeer. In van hul vorige albums het hulle graag stemboodskappe tussen hul liedjies bygevoeg. Volgens die groep is hierdie album uniek in die sin dat dit ’n meer musikale aanbieding is met ’n fokus op die verwerkings en musiek wat ’n storie vertel.

Danie du Toit, die stem agter Spoegwolf, Moskou du Toit op die tromme, Albert van der Merwe, baskitaarspeler, en Chris von Wielligh, kitaarspeler, is die oorspronklike vier lede van die groep en beskryf hulself as ’n “broederskap”. Hiram Koopman het onlangs deel geword van hierdie broederskap en kleur die groep se musiek met die klanke van sy saksofoon.

Dié “vyf broers” het in die wintermaande van 2021 onder die “silwer hemel van Stellenbosch” Silwer bymekaargesit. Hulle het omtrent agt maande aan die album gewerk.

Jurgen von Wechmar was weer, soos met al die vorige albums van Spoegwolf, aan die stuur van die produksie, en die album is opgeneem in Sunset Recording Studios in Stellenbosch. Van die voorafproduksiewerk is in die groep se eie ateljee, Die Wolfhuis, gedoen.

“Met die maak van die album was dit soos ʼn mengelmoes van gevoelens en musiek wat saamgegooi is.”

Musiekvideo “Silwer”

Die eerste enkelsnit vanaf die album, “Silwer”, se musiekvideo is op 27 Augustus bekendgestel en het reeds oorweldigende terugvoer gekry.

Die musiekvideo is in Augustus in die Paarl geskiet deur André Badenhorst en Eric Graham. Die musiekvideo speel af oor ’n dag in Spoegwolf se lewe waar al die lede dinge doen waarvan hulle hou. Hulle is almal op pad êrens heen, en kom uiteindelik bymekaar uit vir ’n optrede tydens sonsondergang.

Volgens die groep is die enkelsnit ’n verhaal van vryheid en liefde. “Natuurlik met klipharde musiek. Dit laat jou voel asof jy skateboard ry tussen Jupiter en Mars.”

Kenmerkend aan die groep se musiek, wek “Silwer” se melodie ’n gevoel van onoorwinlikheid, gekombineer met ʼn storielyn van twee mense wat losbreek.

“In die winter hang die silwer wolke soos ’n kombers oor ons terwyl dit ons vryheid inperk. Maar ons ry. Ons ry vinnig en vêr. So we’re getting out of here.”

As enkelsnit bied “Silwer” ’n triomfantelike terugkeer vir die groep wat dit beskryf as hul hardste, beste en grootste aanbieding tot dusver.

“As ons een laaste song kon speel, is dit hierdie een.”

Die album Silwer is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Die manne van Spoegwolf het in Maroela Media se ateljee kom kuier en met Anja van der Merwe gesels oor die inspirasie agter hulle jongste album Silwer, wat pas uitgereik is. Luister na die volledige gesprek bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.