Luister: Stephantasties: ‘Dis só reg, dis verkeerd’

Stephantasties Stephan van Huyssteen, oftewel Stephantasties, het ’n bekende in die Afrikaanse musiekbedryf geword toe hy deel gevorm het van die musiekgroep NRG. Sy eerste solo-enkelsnit, “Dis verkeerd”, is onlangs vrygestel.

“Die liedjie gaan oor wanneer jy so sterk voel oor iemand, dat dit amper verkeerd is hoe baie jy verlief is op daardie persoon. Dit is maar ’n ander uitkyk op ’n liefdesliedjie, met ’n lekker ritme,” vertel hy.

Oor die video vir dié snit is Stephantasties baie opgewonde. “Ons het dit baie minimalisties gehou. Ons het met verskillende ligontwerpe gespeel, maar halfpad deur die opname daarvan het ons krag afgegaan, so ons moes daardie elemente ook hanteer,” lag hy.

Stephantasties vertel hy sing al van kleins af. “My ma is ’n operasangeres en ons het grootgeword met alle soorte musiek in die huis. Ek speel dromme en het ná skool die geleentheid gekry om dit in Spanje te gaan bespeel,” vertel hy.

Hy was ook onlangs op die kassie te sien as aanbieder vir kykNET se ChatNou-program. “Ek het baie gemaklik geraak voor die kamera, maar ek is altyd die gemaklikste op die verhoog. My eerste instrument bly maar my stem.”

Hy beplan ’n vollengte album. “Ek hoop om dit vroeg 2018 uit te bring, maar miskien bring ek nog ’n paar snitte so stuk-stuk uit,” lag hy.

“Dis verkeerd” is digitaal beskikbaar op iTunes en Deezer.

Gaan na Stephantasties se Facebook-blad vir meer besonderhede oor komende vertonings.

Kyk hier na die video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.