Luister: Steve Ashley vier 50 jaar in die bedryf

Steve Ashley

Steve Ashley. (Foto: Verskaf)

Vir enigiemand wat nie die naam Steve Ashley ken nie, kan jy maar net die naam van The Staccatos, die musiekgroep uit die sestigerjare, noem – en herinneringe van die treffer “Cry to Me” word opgeroep. Nou is Ashley terug met ʼn splinternuwe album, Rediscovered, wat opgeneem is ter viering van sy 50 goue jare in die musiekbedryf.

Ashley vertel hy is deur sy bestuurder, Ebeth Loots, aangemoedig om dié mylpaal in sy loopbaan met ʼn toer én album te vier.

“Ebeth word ook vanjaar 50, so toe sy die voorstel maak dat ons al die mylpale saam moet vier, het ek gedink dit is ʼn goeie idee,” sê Ashley.

Die album, wat ʼn keur van oorspronklike liedjies en nuwe weergawes van bekende liedjies bevat, het ook ʼn country-geur bygekry. “Ek kom mos eintlik uit ʼn rock-agtergrond. Iemand het juis nou die dag na my verwys as ʼn dinosaur rocker,” skerts hy.

Hy het ook vir die eerste keer in sy Afrikaanse aanhangers se behoeftes bevredig deur twee van die twaalf snitte op die album, “Ek het jou lief” en “Met jou alleen”, in Afrikaans op te neem. “Ek was bekommerd oor die Afrikaans, veral met die aksent, omdat dit die eerste keer is dat ek dit probeer. Ek het nog al die jare baie Afrikaanse aanhangers wat my ondersteun, veral mense van die platteland.”

Ashley het ná sy sukses met The Staccatos nie op sy louere gerus nie. Benewens sy Timeless-konserte, waar hy bekende treffers uit die 60’s, 70’s en 80’s sing, sing hy ook gereeld Tom Jones-treffers. Hy het ook onder meer op die SABC 2-musiekvasvraprogram Noot vir Noot verskyn en het landswyd saam met die kykNET Legendes-groep getoer.

Tydens ʼn konsert by Emperors Palace, waar Ashley saam met bekende kunstenaars soos Corlea Botha, Ray Dylan, Jannie Moolman en Monique Steyn gesing het, het hy ʼn staande toejuiging ontvang. Hy beskou dié oomblik in 2015 as een van sy meer onlangse hoogtepunte. “Ek is mal daaroor om saam met die jongklomp te werk. Ek wil nie as ʼn vrome ou man gesien word nie.”

Hy beplan om vanjaar landswyd te toer en gaan ook ʼn draai in Namibië maak.

Hy vertel hy is trots op die feit dat hy ná 50 jaar nog op die verhoog kan wees en skryf sy fut toe aan goeie gesondheid. “Ek het nooit saam met die ander rockers gedrink of gerook nie en ek het nog nooit eens met dwelms geëksperimenteer nie. Toe ek jonger was, het ek die hele rocker-ding gedoen – ek het my hemp uitgetrek op die verhoog – want ek het geoefen en het goed gelyk. Ek was nie altyd so lelik nie,” lag hy.

“Ek weet nie of ek onrealisties is nie, maar ek glo ek kan nog so 10 jaar aangaan met die musiek as ek na my stem kyk. My stem is nou die beste wat hy nog ooit was.”

Rediscovered is nog nie vrygestel nie, maar aanhangers kan dit direk deur Ashley se bestuurspan bestel deur kontak te maak via Ashley se Facebook-blad of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sophia Eva ·

Steve is enig in sy soort en sal altyd net die beste bly. Sy song raak my altyd diep. Sy stem is uniek in wat hy sing

ChrisE ·

Volgens my, persoonlike smaak, is was en sal Cry To Me die beste Suid Afrikaanse liedjie wees wat ooit on ons bodem geskep is. Tydloos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.