Luister: Tasché gesels oor haar eerste album

Tasché Burger (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Tasché Burger, die wenner van vanjaar se The Voice SA, het pas haar eerste kortalbum genaamd Tasché bekendgestel.

Francois van Coke, haar mentor in The Voice SA, was aan die stuur van die produksie van dié album.

“My lewe het ’n 180 grade‑ommekeer ondergaan. Ek was ’n kelnerin gewees voor The Voice, en nou sing ek, dit is wat ek nog altyd wou doen. Ek het nie regtig gemaklik gevoel om enigiets anders te doen met my lewe nie, om te sing is waar ek tuis voel,” sê sy aan Maroela Media.

Tasché werk baie nou saam met Van Coke in sy ateljee in Kaapstad. Sy sê sy voel bevoorreg om so ʼn noue verhouding met hom te hê, omdat sy al baie lank ʼn aanhanger van hom is.

“Dit is baie gerusstellend om vir Francois-hulle aan my sy te hê, want ek weet dit wat ons doen, gaan werk.

Tasché burger in “Die een” se musiekvideo (Foto: Benjamin Malherbe via Instagram)

“Ek het nog altyd baie opgekyk na Francois, ek dink hy het vir homself ʼn baie goeie handelsmerk geskep. En hy is totaal en al heeltyd homself, en ek dink dit is wat hom so amazing maak. Hy is altyd net wie hy is en hy sê wat hy wil sê. Dit is wonderlik om hom as ʼn mentor te kan hê.”

Daar is ses liedjies op Tasché se kortalbum, waarvan twee oorspronklike liedjies is. Sy het ook ʼn liedjie saam met Van Coke en ʼn liedjie saam met Danie du Toit van Spoegwolf opgeneem.

Tasché het vroeër aan Maroela Media vertel dat sy saam met Van Coke, Die Heuwels Fantasties se Hunter Kennedy en Die Gevaar se Richard Onraet gewerk het om haar eerste enkelsnit en musiekvideo, “Die een”, op te neem.

Tasché is op alle digitale platforms en in musiekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.