Luister: The Voice-sangeres se debuutalbum tref die klankgolwe

Samantha Leonard, die donkerkopsangeres met die sterk stem wat derde geëindig het as deel van mentor Karen Zoid se groep in die 2017-reeks van die Mnet-realiteitsreeks, The Voice, het pas haar Afrikaanse debuutalbum, ʼn Duisend Keuses, vrygestel.

Leonard, wat sewe van die snitte op die album, insluitend die titelsnit, self geskryf het, vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media sy het ʼn baie spesifieke doel met dié album gehad.

“Dit was my keuse om self soveel snitte vir die album te skryf. Ek wou van die begin af gehad het die fondament van die album moet eerlik wees oor wie ek as persoon en kunstenaar is. Elke liedjie vertel ʼn storie, so alles kom van ʼn persoonlike ervaring in my lewe. Dalk is daar iemand daar buite wat deur dieselfde ding gaan en ek hoop dat dit hulle sal inspireer en sal laat voel dat hulle nie alleen daarin is nie,” vertel sy.

Leonard het ook saam met Muse Productions, wat bestaan uit die sanger en liedjieskrywer Vaughan Gardiner en sy vrou, Nerine, en Hugo Ludik, liedjieskrywer en sanger wat deel is van die gewilde popgroep ADAM, aan die album geskryf.

“Vaughan en Nerine het vier snitte vir die album geskryf en Hugo en Vaughan het een lekker dansnommer met die naam ‘Ek hoop jy is gelukkig’ vir die album geskryf,” sê Leonard oor dié album met sy wye verskeidenheid van liedjiekeuses.

“Dit was regtig ongelooflik om saam met Muse Productions te werk. Toe ek vir die eerste keer by hulle ateljee instap, het ek in my hart geweet dit is waar ek my album gaan opneem. Ek het die regte gevoel gekry en ek is nog nie een dag spyt daaroor nie.”

Samantha Leonard kuier in die Maroela Media-ateljee met haar debuutalbum, ''n Duisend Keuses'. (Foto: Maroela Media)

Samantha Leonard kuier in die Maroela Media-ateljee met haar debuutalbum, ”n Duisend Keuses’. (Foto: Maroela Media)

Volgens Leonard bestaan die album uit ʼn paar ballades wat aan die hartsnare sal trek, asook danssnitte en ʼn rock-nommer. “Die rock-snit se naam is ‘Fantasie’ en dit is een van my persoonlike gunstelinge wat ek self geskryf het, wat die album anders maak.”

Sy voel “ʼn Duisend Keuses”, wat ook die eerste enkelsnit is wat sy vrygestel het, is die mees persoonlike snit op die album en daarom is dit ook haar gunstelingsnit op die album.

“Elke liedjie in sy eie reg vertel egter ʼn storie en is spesiaal op sy eie manier,” voeg sy by.

Leonard sal in April te sien wees op die verhoog by die Sun Arena by die Times Square Casino in Menlyn, Pretoria, tydens die jaarlikse Ghoema-musiektoekenningsgeleentheid, wat vanjaar vir die eerste keer by dié gesogte venue plaasvind. Dié geleentheid word ook regstreeks op kykNET uitgesaai.

“Ek is so opgewonde. Dis om die draai. Die tyd vlieg en ek kan nie meer wag nie. Ek begin nou al slapelose nagte kry net om daaraan te dink,” lag sy.

Haar tweede musiekvideo en enkelsnit wat onlangs uitgereik is, heet “Jou hart sal heel raak” en sy vertel die inspirasie vir die snit kom van ʼn baie hartseer persoonlike ervaring.

“Iemand wat vir my ʼn tweede ma is en twee pragtige vriendinne wat vir my soos twee sussies is, het haar ongelooflike man en hulle pa aan kanker verloor binne ses weke ná sy diagnose. Ek kan my nie indink waardeur hulle moet gaan en die pyn wat hulle elke dag saam met hulle moet dra nie. Daar is baie mense daar buite wat deur dieselfde hartseer gaan, wat iemand skielik verloor het,” sê Leonard.

Leonard vertel sy is besig om ʼn toerskedule met die album bymekaar te sit en sal binnekort die datums bekend maak.

ʼn Duisend Keuses is beskikbaar vir aankope op alle digitale platforms, aanlyn by Takealot en by Leonard se vertonings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mamma M ·

WOW!!!! So so mooi…… Uitsonderlike stem en ‘n baie mooi vrou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.