Luister: Uitdagende tye inspireer Elvis se nuwe album

Elvis Blue. (Foto: Francois Olivier)

Elvis Blue se jongste album, Meer as genoeg, lê hom na aan die hart omdat hy geskryf het oor die afgelope twee jaar se uitdagings wat hom tot nuwe insigte gebring het.

Die mat is weens die pandemie onder kunstenaars se voete uitgepluk en hulle kon as gevolg van streng inperkingsmaatreëls nie optree nie.

“Ek het basies my werk verloor,” sê Elvis in ʼn ateljee-onderhoud met Maroela Media.

“As ’n skrywer en kunstenaar kry jy soms ’n taai klap. Eers huil jy en kry jy jouself jammer, maar dan besef jy dis die beste ding wat met jou kon gebeur.

“Daar het ’n paar dinge gedurende hierdie tydperk binne-in my gebeur wat ek in liedjies verwoord het. Wanneer jy iets verloor waarvoor jy lief is, raak jy bewus van ander goed wat jy steeds het. Dit is waaroor ek geskryf het terwyl ek gewonder het wat is genoeg.”

Dié liedjies is in ʼn album van agt snitte saamgevat. “Meer as genoeg” is die titelsnit, met ander snitte soos “Goud in die vuur”, “Dis wie ek wil wees”, “’n Boer se lont” en “Hart van ʼn vrou”.

Die temas wat in die album aangeraak word, is die liefde, deursettingsvermoë en moeilike tye. Hy verklap dat hy ook baie oor sy vrou geskryf het.

“Ek gaan moeilikheid kry as ek nie skryf oor my vrou nie,” skerts hy. “’n Liefdeslied is ʼn moeilike ding om te skryf. Daar is baie liefdesliedjies daar buite, maar om ʼn goeie een te skryf is moeilik.

“Ek besef die afgelope tien jaar het ek baie min tyd saam met my familie en baie tyd op die pad deurgebring. Toe, ewe skielik, is ek vir ’n lang tyd by die huis saam met my gesin vir wie ek lief is,” verduidelik hy.

Elvis het saam met Arnold Coleske en Paulo Azevedo in die Coleske Artists-ateljee aan die album gewerk.

Die titelsnit van “Meer As genoeg” handel oor die dinge wat jy daagliks as vanselfsprekend aanvaar, soos om tyd saam met jou gesin deur te bring of selfs om in die natuur te gaan stap.

“Eers wanneer dit by iets soos jou huis of werk kom en jy besef daar is ’n kans dat jy dit kan verloor, raak jy regtig dankbaar daarvoor.”

ʼn Musiekvideo vir “Meer as genoeg”, waarin Elvis saam met alledaagse mense uitgebeeld word en bewys hoe hulle in die eenvoud van die lewe geluk vind, is oor vier dae in Meiringspoort, Johannesburg, George, Oudtshoorn en Wildernis geskiet.

“Dit is die langste wat ek nog geskiet het aan ʼn video. Ons het baie gereis en die weer het ook nie altyd saamgespeel nie. In ʼn tyd wat ons almal in ons huise sit, wou ek mooi plekke in ons land uitwys.”

Meer as genoeg is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

  • Luister bo-aan die berig na die onderhoud met Elvis Blue in die Maroela Media-ateljee.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Meer as genoeg”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.