Luister: Verlies, verlange inspireer Kirky se jongste uitreiking

Kirky van Kirkwood. (Foto: Darling Photography)

Om oor die dood van ʼn geliefde te praat is nooit maklik nie, maar die sangeres en liedjieskrywer Kirky van Kirkwood raak versigtig aan dié moeilike onderwerp met ʼn kragtige nuwe liedjie oor die verlies van en verlange na haar ma.

“Song vir Ma” is die jongste uitreiking uit Kirky se pen. Sy het sowat twee jaar gelede op die Afrikaanse musiektoneel verskyn met die debuutenkelsnit “Wie sê ʼn vrou kan nie boer nie”.

Kirky, oftewel Christine Swart, het haar bynaam gekry toe sy op Wellington in die Wes-Kaap onderwys studeer het en haar as eerstejaarstudent aan haar medestudente moes voorstel. Toe sy sê dat sy van Kirkwood in die Oos-Kaap afkomstig is, het die ander studente haar Kirky van Kirkwood begin noem, en dié bynaam het haar tot vandag bygebly.

Voordat sy haarself in die Afrikaanse musiekbedryf kom tuismaak het, het sy op ʼn sitrusplaas – nie te ver van dié van haar eie familie se plaas nie – met sitrus soos suurlemoene, lemoene en nartjies geboer.

Sy het intussen die land begin plat toer saam met Esté en Lourens Rabé, bekend as die musiekduo RAAF.

Kirky vertel in Maroela Media se ateljee haar ma is in 2015 oorlede en hoewel baie water intussen in die see geloop het, erken sy dat dit steeds moeilik is om daaroor te praat.

Sy is egter geïnspireer om “Song vir Ma” te skryf nadat sy by ene Jakoos Scheepers en sy vrou op Patensie gekuier het en hulle agtergekom het hulle al drie het iets gemeen: die verlies van ʼn ouer.

“Ek het vir Jakoos ʼn boodskap gestuur om te vra of hy my sal begelei by ʼn fees. Ek het hom van geen kant af geken nie, maar hy het steeds ingestem. Ek het by hom en sy vrou gaan kuier sodat ons kan voorberei vir die fees, maar ons haak toe vas in die Patensie Hotel se kroeg, soos wat die mense in klein dorpies maar doen.

Kirky van Kirkwood. (Foto: Darling Photography)

“Uiteindelik is ons huis toe waar ons ʼn vuur aangesteek het. Die aand het toe oggendure geraak en ek en Jakoos het oor redelik baie dinge gesels. Ons besef toe ons het iets gemeen: Ek, Jakoos en sy vrou, Hilde, het almal een van ons ouers verloor.”

Sy wou nooit regtig oor die verlies van ʼn ouer praat nie, erken Kirky.

“ʼn Week het verbygegaan en ek is toe weer op pad na Patensie. Die gesprekke van die vorige week het nog die hele tyd in my kop gemaal en so 20 km voor ek daar aangekom het, begin die idee van ‘Song vir Ma’ in my kop speel en ek begin stemnotas daarvan maak.

“Ek het by Jakoos gestop en die liedjie was basies klaar geskryf. Ek gryp toe my kitaar en speel dit vir hom. Hy en Hilde het dadelik daarvan gehou en dit was vir my belangrik, aangesien hulle deel was van die proses wat tot die liedjie gelei het.”

Dit voel egter of daar nou ʼn las van haar skouers af is, sê sy.

“My hele lewe lank kon of wou ek nooit oor my emosies praat nie. Ek het egter besef dat as ek oor my emosies begin skryf, dit dan makliker is om daaroor te praat. Ek is trots op die persoonlike groei wat die skryf en sing hiervan vir my gebring het en hopelik kan dit vir iemand daar buite ook iets beteken.”

Die musiekvideo vir “Song vir Ma” is vervaardig deur Esté Rabé en Ruben Oosthuizen. Die video- materiaal is meestal in Nieu-Bethesda, asook op die Diamant-landgoed in die Paarl, geskiet.

“Iets waaraan ek nie gedink het toe ek die liedjie geskryf het nie, is dat iemand wat steeds hulle ma het, daardeur aan die dink gesit word. Mense kom sê by vertonings dat hulle ouers nog leef, maar dat die liedjie hulle laat wonder hoe dit sal wees as hulle daardie ouers aan die dood moet afstaan.

“Ongelukkig kom ʼn mens altyd eers tot die besef watter waarde tyd saam met ʼn geliefde het wanneer dit te laat is.”

“Song vir Ma” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Kirky van Kirkwood.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Song vir Ma”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tallies ·

Mal oor dit! Dink sy gaan nog groot hoogtes in haar loopbaan bereik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.