Luister: Vermy slaggate in musiekbedryf met dié werkswinkel

Hugo Ludik en Vaughan Gardiner is albei sangers, liedjieskrywers en vervaardigers wat reeds jare se ondervinding in die Afrikaanse musiekbedryf agter hul name het.

Saam bestuur hulle die musiekproduksiemaatskappy Muse Productions, wat al talle treffersnitte opgelewer het. Ludik is onder meer bekend as sanger vir die Afrikaanse popgroep ADAM terwyl Gardiner destyds bekendheid verwerf het vir sy enkelsnitte “Gooi jou arms om my” en “Vir jou”.

Dié twee musikante het kragte saamgesnoer met Alishia van Deventer, bemarkingsghoeroe in die Afrikaanse vermaakbedryf, om ʼn werkswinkel, “Van slaggat tot kollig – wat jy moet weet oor die musiekbedryf”, aan te bied. Dié werkswinkel is spesifiek vir opkomende sangers, musikante, bestuurders en agente om die bedryf beter te verstaan en die toekoms beter toegerus te benader.

Hierdie werkswinkel word met trots ondersteun deur GROOTfm 90.5, Maroela Media, ATKV, ATKV-Crescendo en die FAK. Saam met Ludik, Gardiner en Van Deventer sal GROOTfm 90.5 se musiekbestuurder, Pieter Cloete, ook meer lig werp oor wat nodig is om speeltyd vir jou musiek op die radio te kry.

“Dié kursus handel oor alle dele van die musiekbedryf,” vertel Ludik in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media. “Die meeste mense, as hulle dink aan die musiekbedryf, dink aan ʼn ateljee en ʼn verhoog en jy neem ʼn liedjie op en dis dit. Ons werp basies lig op alles anders wat nét so belangrik is soos die opneem en sang. Ons gesels oor musiekregte, aan wie behoort die musiek, van skrywers tot wie die liedjies opneem, en aan wie behoort die musiek as jy by ʼn platemaatskappy is.”

Alishia van Deventer van Starburst Promotions. (Foto: Verskaf)

Van Deventer sal meer vertel oor die bemarking- en publisiteitsaspekte van die bedryf, waarby voornemende en huidige bestuurders en agente baat sal vind. Ludik hanteer die ontwikkeling van kunstenaars en hoe om hulle aan die publiek bloot te stel. Gardiner, wat ʼn nagraadse kwalifikasie in intellektuele eiendomsreg het, sal sy kennis oor onder meer kopiereg en intellektuele goedere deel.

“Ons het self nou al soveel kunstenaars opgeneem wat by ons kom sit en al ingedoen is deur ʼn hele klomp rolspelers in die bedryf en dan kom raad vra. Al daardie tipe van vrae wat mense het, sal ons tydens die werkswinkel kan beantwoord en dit is inligting wat hulle definitief kan gebruik vorentoe,” voeg Gardiner by.

Van Deventer beaam dat sy gereeld met kunstenaars te doen kry wat voorheen in slaggate getrap het. “Daar is baie kunstenaars wat nie weet hoe om hulself daar buite te kry nie en hulle ore uitleen aan elke Jan Rap en sy maat, daarom probeer ons leiding gee. Kennis is mag.”

Ludik voeg by dat die kursus nie slegs vir mense is wat reeds in die bedryf is nie, maar vir enigiemand wat nog graag ʼn voet in die deur wil kry of die musiekbedryf wil aanpak. “Soos met enige besigheid daar buite gaan dit oor jou dryfkrag en wilskrag en daar is ʼn mark vir alles. As jy jou gaping in die mark kan kry en jy werk hard genoeg, dan moet jy gaan daarvoor.”

Hugo Ludik. (Foto: Verskaf)

Hierdie werkswinkel vind op Saterdag 20 Julie plaas en gaan in ʼn oggendsessie (08:30 – 12:00) en ʼn middagsessie (13:00 – 17:00) verdeel word om vir meer mense die geleentheid te bied om die toekoms met die nodige kennis en saam met die regte rolspelers aan te pak. Die werkswinkel word by GROOTfm 90.5 se kantoor (Bloukransgebou, Lynnwoodbridge Mall, Daventryweg 4, Lynnwood Manor) aangebied en die werkswinkel sluit ook ʼn toer in van dié gewilde radiostasie.

Tydens die verrigtinge sal onder andere van die volgende onderwerpe oor die musiekbedryf hanteer word:
– Wie die rolspelers is en hoe almal mekaar aanvul;
– Hoe om jouself voor te berei voordat jy die onderskeie rolspelers begin kontak;
– Die waarde van ’n behoorlike produk;
– Die verskil tussen publisiteit en bemarking;
– Wat kopiereg is en hoe dit in die musiekbedryf pas;
– Wat die wet sê oor kopiereg en wat mites is;
– Wat ’n A&R (kunstenaar en repertoire) is en wat is sy of haar rol;
– Wat die rol van ’n platemaatskappy in vandag se tyd is;
– Wat dit behels om ’n onafhanklike kunstenaar te wees;
– Hoe om ’n lid van SAMRO te word; en
– Wat dit behels om ’n kunstenaar te wees.

Vaughan Gardiner. (Foto: Verskaf)

Kenners met jarelange ondervinding in die bedryf gaan op die dag aan die woord wees om raad, leiding en antwoorde te gee waarna opkomende sangers daagliks soek en nie weet waar om te kry nie.

Kaartjies kos R950 per persoon en kan by Gizela Arndt bespreek word deur ʼn e-pos te stuur na [email protected]. Dit sluit ligte verversings en drinkgoed in. Daar is slegs 20 plekke per sessie, so belangstellendes sal gou moet spring om teleurstelling te voorkom.

“Na afloop van dié kursus sal jy regtig ʼn beter geheelbeeld hê van waaroor die bedryf gaan. Met die gekombineerde ondervinding wat ons in die bedryf het, kan ons dit oordra aan die ouens daar buite,” sê Van Deventer.

“Ons harte is op die regte plek om dit wat ons geleer en opgebou het oor die laaste klompie jare te deel. Ons wil dit nie vir onsself hou nie. Dit is ons verantwoordelikheid om ʼn stappie vorentoe te neem en te sê, kom ons neem leiding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.