Luister: Verskeidenheid van style, tale op Refentse se nuwe album

Refentse Morake het pas sy jongste album, Wandel in my woning, bekendgestel waarop hy sy veelsydigheid as sanger ten toon stel.

Die nuweling op dié album, “Daai Deng”, se musiekvideo word vandag bekendgestel.

Refentse vertel aan Maroela Media Wandel in my Woning is ʼn album waarin hy verskillende kante van homself wys.

Wandel in my woning is my formele uitnodiging aan die luisteraar vir ʼn loer-kyk in die kern van my sienswyse.

“My hele idee was om ʼn album te maak wat jy by ʼn braai kan begin speel en ook daarmee afsluit – fynhoutjies wat die partytjie aan die gang kry, maar dan ook dieper musiek vir daardie laaste wyn-uur. Dis ʼn baie groot mengselmoes met klomp style. Ek is baie opgewonde, ek dink dis verreweg my beste werk.”

Die nuwe album is net so ryk in musiekstyl en taal as wat dit in verskeidenheid is. Refentse sing van reggae tot rock tot boeremusiek. Hy sing ook in Afrikaans, Engels, Zoeloe en Sesotho.

Refentse vertel dat hy ses van Suid-Afrika se amptelike tale vlot kan praat, en dat hy basiese kennis het van die res van die 11 amptelike tale.

“Ek is ietwat van ʼn poliglot – ek hou van tale en veral omdat ek so baie praat, is die geleentheid altyd daar om met mense te kommunikeer.”

Refentse tydens die verfilming van die musiekvideo vir “Daai Deng” (Foto: Facebook)

Refentse sê hy het by die huis en op skool geleer om die verskillende tale te praat en dat hy ook nog leer by vriende wat van verskillende plekke af kom.

“As dit by taal kom, is ek bevoorreg om in Gauteng te woon, want almal kom van verskillende plekke af – ons leer maar mekaar om te kommunikeer, en hoe meer jy leer, hoe makliker raak dit en hoe vinniger tel jy die tale op.”

Refentse se jongste enkelsnit, “Daai Deng”, se musiekvideo tref ook vandag die internet. Hy verduidelik dat hierdie lied deur die sosialemediaplatform TikTok geïnspireer is.

“Die lied is tong in die kies. Ek voel asof TikTokkers ʼn ras op hul eie is. Ek is geheel en al verslaaf aan die inhoud – ek kan nie van my foon af klim nie.

“Dis altyd vir my so snaaks om te sien hoe almal hierdie ‘ding’ jaag. As jy iemand sien by ʼn winkelsentrum is hulle besig om ʼn TikTok te maak, want hulle jaag hierdie roem of vrede, of wat ook al daardie ‘ding’ vir hulle is, na. Toe skryf ek ʼn liedjie oor daai ding en almal wat hom soek.”

Refentse het saam met van sy gunsteling-TikTokkers die strate van Pretoria ingevaar om die musiekvideo van “Daai Deng” te verfilm.

Hy vertel dat hulle ook in Mamelodi se strate gaan dans het: “Selfs in Mamelodi soek hulle ‘daai deng’, so toe moet ons gaan kyk!”

Wandel in my woning is op alle digitale platforms beskikbaar. Kyk die musiekvideo vir “Daai Deng” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.