Luister: Vox-kamerkoor bekoor met Paasoratorium

Kruis van liefde (Foto verskaf aan Maroela Media)

Kruis van liefde, ʼn Paasteks deur digters Hans du Plessis en Bernard Odendaal, is onlangs deur Franco Prinsloo, ʼn Pretoriase komponis en stigter van die Vox-kamerkoor, in ʼn gelyknamige oratorium getoonset.

Prinsloo begelei die Vox-kamerkoor in ʼn meesleurende uitvoering van dié Paasoratorium wat nou gratis op aanlyn platforms beskikbaar is.

Hy het in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê dat die skrywers van Kruis van liefde hom sowat twee jaar gelede genader het om ʼn musikale verwerking van die teks te skep. Hy beskou dit as ʼn voorreg om met dié Paasteks te kon werk.

“Toe prof. Hans vir my die teks gestuur het en ek dit lees, kon ek al klaar die musiek daarin hoor,” vertel hy. “Dit was vir my ʼn geweldige eer en voorreg om met só ʼn mooi teks te werk.”

Kruis van liefde is ʼn uitbeelding van die Paasverhaal en bestaan uit Odendaal se liedere en Du Plessis se poëtiese teks. Prinsloo is bekend met Du Plessis se poësie en het in 2010 saam met hom aan die kabaretproduksie van Boegoe vannie liefde gewerk.

Die oorspronklike teks is geskik vir koorwerk én soliste, maar Prinsloo se verwerking is juis getoonset met die Vox-kamerkoor in gedagte.

Franco Prinsloo, ʼn Pretoriase komponis en stigter van die Vox-kamerkoor. (Foto verskaf aan Maroela Media)

“Terwyl ek skryf, kon ek my indink hoe dit moet klink en ook die stemgroepe met spesifieke sangers in my gedagtes toonset. Ek kon byvoorbeeld vir hulle lyne gee wat ek weet hulle mooi sal sing, omdat ek presies weet wat die stemomvang van die sangers is,” vertel hy.

Prinsloo sê die koor is soos ʼn hegte gemeenskap, die koorlede is sy vriende en hulle maak saam musiek. “Ek wou die oratorium natuurlik aan hulle opdra – veral omdat ons so ʼn wonderlike gemeenskap is, wou ek hê ons moet daardie ervaring deel.

“Om ʼn uur lange oratorium uit te voer en op te neem is ʼn groot taak, maar ek het geweet dat die Vox-kamerkoor se sangers die vermoëns het.”

Prinsloo sê hy het om ander redes ook besluit om die verwerking vir ʼn kleiner groep te toonset.

“In hierdie geval en omdat ʼn mens nie altyd die finansiering het om ʼn groot orkes en soliste te kan bekostig nie, het ek besluit om my oratorium kleiner te hou. Daar is net koorwerk en geen solo’s nie, maar die koorlede en stemgroepe vul die karakterrolle.

“Soms sal die tenore Jesus se karakter uitbeeld en die alte sal Moeder Maria uitbeeld. Ons gebruik ook nie ʼn orkes nie, maar wel ʼn orrel wat eintlik ʼn orkes op sy eie is.” Die klein ensemble bestaan uit  Isabelle van Rensburg (orrel), Magdalena de Vries (marimba en slagwerk), Deo du Plessis (keteltromme en slagwerk), Wian Joubert en Herman Swanepoel (bykomende slagwerk).

Die Vox-kamerkoor is in 2017 deur Prinsloo gestig met die doel om ʼn platform te skep waar hy sy eie komposisies kan uitvoer en opneem. Die koor het met agt sangers begin en het sedertdien aanhou groei, verskeie albums die lig laat sien en selfs in 2018 ʼn draai by die Wêreldkoorspele gemaak wat op eie bodem aangebied is. Die koor het ʼn goue medalje gewen in die kategorie vir eietydse klassieke musiek.

Vox-kamerkoor tydens die ‘Kruis van liefde’-abumbekendstelling. (Foto: Vox Chamber Choir/Facebook)

“Van die eerste stukke wat ons gekry het, was regtig fantasties. Toe die hele oratorium uiteindelik bymekaargekom het, was dit ʼn enorme verligting,” sê Jacques Nortjé, wat van 2017 af ʼn lid van die koor is.

“Ons het baie van die stukke op Zoom geoefen, want dit was gedurende die inperking,” onthou hy. “Die eerste keer dat ons die oratorium van begin tot einde saamgesing het, moes ons almal agterna eers ʼn oomblik neem om tot verhaal te kom.”

Nortjé meen dit is ʼn ongelooflike emosionele stuk wat hom in soveel opsigte, veral geestelik, verryk het.

Kruis van liefde is moontlik gemaak deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) en word ook ruim ondersteun deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU).

  • Franco Prinsloo het in die Maroela Media-ateljee kom kuier en gesels oor sy musikale verwerking van Kruis van liefde wat deur die Vox-kamerkoor opgevoer word. Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud en bly ingeskakel, want die onderhoud word uitgespeel met ʼn klankgreep uit die Paasoratorium.
  • Klik hier om aanlyn na Kruis van liefde te luister. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.