Luister: Werner Olckers gedryf deur passie vir musiek, storievertel

Werner Olckers. (Foto: AJ Howard Photography)

Al het Werner Olckers eers as voorsanger van die Engelse rockgroep Wrestlerish naam gemaak en die radiogolwe getref met liedjies soos “Oliver Tambourine” en “Bad News”, speel hy al sedert sy tienerjare in musiekgroepe.

Sedert Wrestlerish in 2014 ontbind het, het Werner egter nie ophou woeker met musiek nie en is hy bekend in ateljees regoor die land.

Werner is reeds meer as twee dekades doenig in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Hy en die musikant Peach van Pletzen het hulle eerste groep, SHU, in 2001 gestig toe hulle saam drama studeer het aan Pro Arte in Pretoria.

Hy het in 2023 eers Afrikaanse solo-enkelsnitte begin uitreik, en het pas sy vierde Afrikaanse liedjie, “Gunsteling” saam met ʼn musiekvideo met ʼn rofstoeitema bekend gestel. Yo Nax van Van Pletzen verskyn ook in die musiekvideo.

“Ek is verskriklik opgewonde oor die musiekvideo vir ‘Gunsteling’. Die video is in Johannesburg by die African Punishment Wrestling Association (APWA) se oefensaal geskiet. Die kampioenrofstoeier Ananzi verskyn ook in die video,” sê Werner.

“Ek het myself nogal deur hel gesit om dit te maak. Ek is in die kryt teen ʼn professionele rofstoeier. Daar is so baie wat aangaan in die video. Dis ook ʼn prettige video met snaakse oomblikke. My vorige band-maat en vriend, Nax, het ʼn rol in die video en was ongelooflik snaaks tydens die verfilming.”

“Gunsteling” is ʼn alternatiewe Afrikaanse pop-liedjie met ʼn universele tema wat handel oor die beëindiging van ʼn vriendskap of verhouding.

Volgens Werner gaan die liedjie se boodskap oor ʼn basiese menslike ervaring.

Werner Olckers. (Foto: AJ Howard Photography)

“Ek glo die tema is iets wat almal op ʼn stadium in hulle lewe beleef het. Die liedjie speel met die idee van aanbeweeg van iemand wat nie noodwendig goed was vir jou nie, maar om op dieselfde tyd te kan terugkyk met ʼn gesonde siening van beide die goeie en slegte tye.”

Volgens Werner is hy ʼn groot voorstaander van ʼn balans vind tussen melodie en ritme. “’Gunsteling’ voel net soos ʼn natuurlike keuse vir ʼn enkelsnit. Die liedjie bevat beslis beide elemente saam met ʼn vars mengelmoes van klanke.

“Soos wat ek stadigaan musiek in Afrikaans uitreik, besef ek hoe baie spasie en honger daar is vir ʼn verskeidenheid van Afrikaanse kunstenaars. Ek hoop mense gaan die dualiteit van die hartseer lirieke en ritme geniet.”

“Gunsteling” volg op die snitte getiteld “Remissie”, “Klein en kleiner” en “Selfbeheer”. Hy is tans besig om die finale aanpassings aan sy eerste solo-album te maak en skryf reeds vir die tweede een, en wil graag regdeur die jaar nuwe musiek uitreik.

Werner sê dit is sy passie vir storievertel wat hom dryf om elke dag musiek te skryf en kreatief te wees. Hy het reeds as kind blootstelling in die vermaakbedryf gehad.

“My pa, Chris, was ʼn joernalis vir die SAUK. Ek het gevolglik grootgeword op TV-stelle van programme soos Pumpkin Patch en Kideo, en tussen akteurs en kunstenaars. My ma speel kitaar, orrel en klavier en het my van ʼn baie jong ouderdom blootgestel aan musiek.”

Werner se eerste reël as dit kom by musiek is om altyd ʼn oop kop te hê oor alle soorte musiek.

Werner Olckers. (Foto: AJ Howard Photography)

“Daar is meriete en kuns in alles, van klassieke musiek tot Rina Hugo se treffers tot metal musiek. Ek geniet dit verskriklik om alles te ontleed.”

Werner se musiek en projekte is al benoem vir verskeie Samas en sy liedjies het al ʼn hele paar no. 1-posisies op nasionale en kampusradiostasies gehaal.

Sy musiek is ook in rolprente soos Spud gebruik en hy het onder meer ʼn Loerie- en Pendoring- toekenning ingeoes. Hy het ook al op die Sama-prysaand en in die SABC 2-sepie 7de Laan opgetree.

Werner se musiek word deur ander musiek, rolprente, boeke, sy vriende en familie geïnspireer.

“Daar is musiek in alles. ʼn Mens moet net luister,” sê hy.

“Gunsteling” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Werner Olckers.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Gunsteling”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.