Luister: Willem Botha: ʼn Boodskapper vir die liefde

Willem Botha (Foto: Facebook)

Meer as tien jaar gelede het die skraal seun met die ligstrepies in sy hare en die sagte brei-stem harte verower as een van die gewilde deelnemers aan die Afrikaanse Idols-werklikheidsreeks. Vandag – talle treffers later – is sy gewildheid steeds immergroen, maar dié keer het hy ʼn ander boodskap: liefde sonder grense.

Die bekroonde sanger, wat ook al sy talente as professionele fotograaf in glanstydskrifte laat pryk het, se jongste album, Soen & Vergeet, is onlangs vrygestel.

Botha sê dié musiek vergestalt volwassenheid, en dié album het sekerlik die sterkste boodskap van al sy vorige albums tot nóg toe.

“Ek dink my musiek het sedert die begin van my loopbaan baie gegroei. Dis ʼn onvermydelike proses: met elke album groei jou musiek saam met jou as mens. Soen & Vergeet mag dalk baie lighartig klink, maar dit is glad nie die geval nie. Ek het dadelik aanklank gevind by die boodskap. Dit vertel die storie van mense wie se verhoudings vir hulle ʼn gewoonte word. Die woorde sê dat jy die spesiale oomblikke in die lewe moet onthou en dit moet koester. Sodra jy die liedjie luister, sal dit vir jou ʼn spesiale boodskap ontsluit,” vertel hy.

Willem Botha (Foto: Facebook)

Hoewel skrywers soos onder andere Roux Cloete, William Loots en Johan Vorster aan die album gewerk het, is talle van die liedjies uit sy eie pen. Botha sê dit is altyd senutergend om sy liedjies – of sy kinders, soos hy daarna verwys – aan kritiek bloot te stel.

“Sodra jy jou musiek vrystel, stel jy dit bloot aan kritiek – hetsy positief of negatief. Vir dié album het ek drie jaar onophoudelik geskryf en uiteindelik ʼn laaikas van byna 60 liedjies gehad waaruit ek kon kies. Ek skryf uit gebeurtenisse: mense en hul stories fassineer my ongelooflik. Selfs by die konserte probeer ek altyd om met mense te gesels omdat dit my dikwels inspireer vir stories. Niks op die album is niksseggend nie – elke liedjie het ʼn spesiale storie wat vertel word. Ek wou juis daarom die album Die storieverteller genoem het, maar op die ou end het ons op dié rigting besluit.”

In dié liedjies kan daar ook baie van sy persoonlike lewe opgemerk word, vertel die sanger. “Dis die ding wat mens veral angstig maak: dat jy jou hart deel met mense en dat hulle dit moontlik nie gaan verstaan nie. Met hierdie album het ek verskriklik baie van myself gedeel. En dan gaan baie van die liedjies natuurlik ook oor mense wat van my aanhangers sal ken, omdat ek nie nee kan sê wanneer ʼn storie my inspireer nie,” terg hy.

Die boodskap van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding dring sterk deur in die meeste liedjies. Botha sê hy het doelbewus besluit om juis dié aanslag te volg met sommige van die liedjies, omdat hy self daarin glo dat liefde geen grense of voorwaardes behoort te ken nie.

“Ek het grootgeword op ʼn plaas op Riversdal en het saam met verskillende kultuurgroepe grootgeword. Ek was nooit geleer dat daar onderskeid tussen ons is nie. Ek het eers in my grootmenslewe besef hoe mense die wêreld sien – maar tot vandag toe is ek steeds nie so nie. Ek gee net om oor ʼn mens se hart, en mense kyk dit heeltemal te veel mis. Hoekom wil jy mense veroordeel vir wie hulle is? As hulle niks aan jou doen, of geen negatiewe uitwerking op jou lewe het nie, los iemand om te wees net wie hy of sy is.”

Anlia van Rensburg en Sean van Noordwyk tydens die opname vir Soen & Vergeet (Foto: Verskaf)

Dié lewensleuse het hom ook reeds vroeër in sy loopbaan gehelp om te verstaan dat nie alles in ʼn sogenaamde gietvorm hoef te pas om suksesvol te wees of betekenis te dra nie. Botha sê hy probeer juis doelbewus wegbreek van ʼn gietvorm, omdat die egtheid van sy musiek vir hom ongetwyfeld die belangrikste is.

“Dit is belangrik om nooit net te wil inpas en jou daardeur te laat dryf nie. Egtheid is vir my ʼn gewigtige saak. Ek dink in elk geval die gietvorm is besig om weg te val, want vandag is daar ʼn groot groep diverse kunstenaars wat almal ongelooflik suksesvol is. Die grootste hiervan is sekerlik Karen Zoid en Francois van Coke se liedjie “Toe vind ek jou”. Dit maak my opgewonde om te besef dat kunstenaars nie oor dieselfde kam geskeer sal word nie, dat ons diversiteit met ope arms ondersteun en aanvaar. Ek self sing nie musiek omdat ek dink dit gaan verkoop nie, maar omdat ek op ʼn verhoog staan en moet weet dít wat ek sing, is eg aan myself.”

Die musiekvideo, Soen & Vergeet, waar die Getroud met Rugby-akteurs Sean van Noordwyk en Anlia van Rensburg as verliefdes te sien is, maak wyd opslae. Dié video is reeds meer as 85 000 keer gekyk.

“Toe ek die titelliedjie opgeneem het, het ek dadelik geweet dat hy besonder spesiaal is. Die liedjie was só sterk op die album dat hy as die eerste enkelsnit vrygestel is. Ek ken vir Sean en Anlia reeds baie goed, en hulle het boonop hierdie ongelooflike mooi storielyn op die sepie. Ons het die musiekvideo op ʼn Arabierperdeplaas geskiet en ek dink dis my eie gunstelingmusiekvideo tot dusver,” sê hy.

Willem se vyf lewenslesse:

  1. Alles in die lewe vat tyd en alles gebeur op die regte tyd. Moenie iets probeer ryp druk nie. Wanneer dit jou tyd is, is dit jou tyd.
  2. Moenie dinge afjaag nie. Ek het dit al keer op keer gesê en besef dit weer met my nuwe album wat nou uitkom. Jy moet jou tyd neem om die beste produk uit te kry.
  3. Neem alles om jou in. Ons is so geneig om te jaag en skarrel dat ons vergeet om vir ’n oomblik stil te staan en net die lewe om ons in te neem en te beleef.
  4. Maak tyd vir jou familie. Omdat my familie so ver bly, probeer ek altyd soveel moontlik tyd inwerk om saam met hulle deur te bring. Al is ek net twee dae op ons plaas op Riversdal, voel dit soos ’n maand se vakansie.
  5. Lag meer en sien eerder die positiewe in die lewe. Ja, daar is baie donker en negatiewe dinge in ons land en in die lewe, maar ek verkies om eerder die mooi in iets of iemand te sien. Ek glo regtig wat jy insit, sal jy terugkry.

Dié album is in musiekwinkels landwyd en op iTunes beskikbaar. Vir meer inligting, besoek Willem Botha se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Genieve ·

Trotse Riversdaler. Jyt baie bereik deur jou nederigheid,en gehoorsaamheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.