Luister: Willem Botha se vele talente

Willem Botha (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Hy het waarskynlik die bekendste bry in die Afrikaanse kunstebedryf en het al telkemale die knieë lam gemaak op die kassie óf op verhoë oor die land. Willem Botha het onlangs sy eerste enkelsnit in twee jaar, “Een shot”, vrygestel wat reeds Maroela Media se Top-20 gehaal het.

Willem Botha het hom aan Suid-Afrika voorgestel as die naaswenner van die eerste seisoen van Idols SA wat in 2006 op die kassie was. Hoewel Sasha-Lee Davids as wenner weggestap het, het Botha nie gras onder sy voete laat groei om iets noemenswaardig van die ervaring te maak nie.

Vandag, meer as tien jaar na Idols, is Botha nie nét ʼn sanger nie, maar ook ʼn TV-aanbieder, fotograaf, grimeerkunstenaar én akteur. Hy het in Liefling (2010), Pretville (2012) en Sterlopers (2016) gespeel en maak deesdae veral naam danksy sy foto’s van Suid-Afrika se bekendste sterre.

Botha het aan Maroela Media vertel dat hy die afgelope twee jaar hom met al dié talente besig gehou het, maar dat hy nou terug is in die musiekbedryf met sy nuwe enkelsnit, “Een shot”.

“‘Een shot’ gaan daaroor dat mense net een kans kry om iets in die lewe te bereik. Dit hang van jóú af of jy dit gaan aangryp en wat jy van die omstandighede maak,” sê hy.

Maar dié liedjie se betekenis het ontwikkel toe Botha en sy span vir ʼn naweek weggegaan het na ʼn natuurreservaat om te skryf.

“Ons het ʼn vuur gemaak, vir ons elkeen ʼn shooter gegooi en toe sê iemand: ‘Okei, kom ons vat gou elkeen een shot en dan begin ons die ding’. En ek stop toe net daar en sê vir hulle ons het iets beet. Ons ruk toe die kitare uit en skryf die liedjie in ʼn paar uur. Ek dink dit is een van die maklikste en vinnigste liedjies wat ek al in my lewe geskryf het,” sê hy.

“Een shot” is die eerste liedjie wat Botha in bykans twee jaar uitgebring het na sy Soen & Vergeet‑album. Hy sê Soen & Vergeet het die meer ernstige kant van hom gewys, waar “Een shot” net ʼn lekker saamsing-liedjie is.

“Dit is tong in die kies. Ek dink mense van enige ouderdom sal daarvan hou, dit is perfek vir die somer wat nou voorlê. Ek is mal oor langarm en dit is die idee wat ek gehad het met hierdie liedjie. Dit moet ʼn lekker langarm‑liedjie wees by ’n dansplek of wanneer jy die aand braai.”

Een van Willem se foto’s van Donnalee Roberts (Foto: Willem Botha)

Botha sê hy is nou aansienlik besiger as toe hy Soen & Vergeet uitgebring het. Waar hy twee jaar gelede slegs optredes op Vrydag- en Saterdagaande gedoen het, is sy week nou baie voller. Maandae en Dinsdae word vir fotosessies bespreek, Woensdae en Donderdae neem hy Kwêla op, Vrydae is dit die kykNET Top-20 se beurt en Vrydag- en Saterdagaande is hy aan’t sing op die verhoog.

Botha het sowat ʼn jaar gelede bekend geraak vir sy foto’s nadat hy pragfoto’s van die sangeres Leah vir die tydskrif Vrouekeur geneem het.

“Ek was eintlik nog my hele lewe lank lief vir foto’s neem. Ek het altyd die diere op die plaas afgeneem, maar toe ek Pretoria toe trek, is daar nie meer so baie diere nie, toe moet ek maar mense begin gebruik,” lag hy.

Botha het ook mediafoto’s vir die sanger Jay du Plessis geneem en ook ʼn fotosessie met Leah gedoen. Hy sê die woord het stadigaan begin versprei dat hy ʼn talentvolle fotograaf is. Botha doen ook self sy modelle se grimering, hare en stilering vir die fotosessie.

“Ons het die foto’s van Leah vir Vrouekeur gegee en gesê hulle kan dit gebruik as hulle wil. Hulle was mal daaroor en het dit op die voorblad gebruik! Daardie selfde maand het ek die hele Vroue‑maand se voorblaaie geneem.”

Een van Willem se foto’s van Franja du Plessis(Foto: Willem Botha)

Juanita du Plessis, Donnalee Roberts, Lindi Strydom en Franja du Plessis was almal deel van dié fotosessies.

“Dit is vir my lekker om vir mense te help besef hoe hulle mooi is, al is hulle nie bekendes nie. Want daar is soveel mooi in elke individuele mens,” sê hy.

En raad vir diegene wat binnekort vir die kamera moet poseer?

“Drink soveel water as moontlik. Dit laat jou vel mooi lyk en jy straal van binne af,” sê hy. “En wees net gemaklik, so cliché soos wat dit klink, wees net gemaklik.”

In die musiekvideo van “Een shot” maak Jay du Plessis ʼn verskyning, omdat hy en Botha al jarelange vriende is.

“Jay is een van my beste pelle én ʼn mentor in die bedryf. Ons is van dag een af al saam. Baie min mense weet van die hoeveelheid dinge wat hy al gedoen het om my te help. Hy is die persoon vir wie ek raad vra in die bedryf,” sê Botha.

Willem en sy vrinede tydens die opneem van “Een shot” se musiekvideo (Foto: Facebook)

“Ek dink dié musiekvideo is een van my gunstelinge wat ek al ooit gedoen het, want dit is so eg aan myself. Ek het nie akteurs gebruik nie, daardie is my régte vriende. Die vuur wat ons daar maak, het ons regtig gebruik om vleis vir die aand se ete te braai. Dit was net lekker en natuurlik en nie ʼn toneelspelery nie,” sê Botha.

“Een shot” sal op Botha se nuwe album, wat aan die einde van die jaar vrygestel word, verskyn. Die liedjie is wel al op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nelspruit ·

Hy was naas wenner van die Afrikaanse Idols wat op KykNET was Dewald Louw was die wenner . Nie die Engelse een nie . Jason was saam met Sasha Lee Daniels die wenner van daai jaar se Idols .

Nelspruit ·

Willem was die naas wenner van die Afrikaanse Idols die jaar toe Dewald Louw gewen het .

Saire ·

Trots op jou Willem. Gaan groot! Jy het ons van kleins af bekoor met jou bry en sterk wil!

Jou Noord Kaap familie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.